100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Oorlewende vlieënier van Randse Lughawe-ongeluk stabiel in intensiewesorg

Written by on September 1, 2022

Die vlieënier van die Pilatus PC-6 Porter-vliegtuig wat Dinsdag ‘n ongeluk by die Randse Lughawe in Germiston oorleef het, is stabiel in die trauma-intensiewesorgeenheid van die Netcare Alberton-hospitaal.
Kapt. Casper Swanepoel (38) was die enigste oorlewende van die tragedie wat vyf lewens geëis het toe die polisievliegtuig neergestort het kort nadat hy om ongeveer 14:30 opgestyg het.
Hy het 16 jaar vliegondervinding en is oorspronklik van Nelspruit. Hy was in die Laeveld gestasioneer tot hy aan die begin van die jaar na Johannesburg oorgeplaas is.
‘n Tweede polisielid wat op die vlug was, AO Willem Erasmus, is dood. Hy was ‘n lugvaart wetstoepassingsbeampte (Aleo) met 29 jaar in die polisiediens.
Vier slagoffers was tegnici van ‘n maatskappy wat polisiehelikopters diens en onderhou.
Volgens ‘n vriend van Swanepoel, is hy aanvanklik as kritiek geag en per ambulanshelikopter hospitaal toe geneem.
Hy kon gistermiddag ‘n operasie ondergaan waartydens verskeie van sy beenbreuke geheg is en ‘n plastiese chirurg aan die snye aan sy gesig gewerk het.
Sy borsbeen is ook gebreek, en hy benodig nog ‘n operasie aan sy tibia, maar hy het nie ernstige inwendige beserings nie en is stabiel.
Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luit. gen. Tebello Mosikili, het haar medelye aan die gesinne en kollegas van die lede betuig en Swanepoel ‘n spoedige herstel toegewens.
“Die tragedie vind plaas op die vooraand van die SAPD se jaarlikse nasionale herdenkingsdag wanneer ons 33 polisiebeamptes en reserviste vereer wat die afgelope boekjaar aan diens hul lewens verloor het.”
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Athlenda Mathe, het polisiebestuur gister met hul gesinne ontmoet, sowel as met die maatskappy vir wie die tegnikuste gewerk het.
‘n Paneel is aangewys om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.

Foto: Kapt. Casper Swanepoel (links) en AO Willem Erasmus.


×