100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Veldwagter herstel goed na olifant hom storm

Written by on January 23, 2023

Die veldwagter wat in Desember ernstig beseer is toe ‘n olifant hom in die Krugerwildtuin bestorm het, sterk goed aan.
Joe Nkuna (57) is Saterdag deur die minister van bosbou, visserye en die omgewing, Barbara Creecy, in die hospitaal in Johannesburg besoek.
Sy sê hy het reeds verskeie operasies ondergaan waar hy sedert die voorval in die intensiewesorgeenheid is.
Sy mediese span is tevrede met sy vordering en hy sal na verwagting eersdaags met fisioterapie kan begin.
Die voorval het op 20 Desember plaasgevind toe ‘n groep veldwagters op patrollie in die Pretoriuskop-area was.
‘n Teeltrop het die pad voor hulle oorgesteek. Die een olifant het skielik omgedraai en die veldwagter gestorm.
Nkuna se kollegas het ‘n waarskuwingskoot afgeskiet, wat die olifant laat weghardloop het.
Hy is op die toneel gestabiliseer en per helikopter hospitaal toe geneem.
Creecy voeg by dat Nkuna, wat 32 jaar se ervaring as ‘n veldwagter het, nie kan wag om terug te keer na sy pos in die wildtuin nie. Sy het hom geloof vir sy dapperheid en passie.

“Dit was ‘n tragiese voorval en ek is bly dat ek met hom kon praat.
“Ek het hom kom herinner dat hy deel is van die bewaringsfamilie en hom die beste toegewens vir sy herstel,” sê sy.
“Veldwagters is ons helde en is in gevaar elke keer wanneer hulle uitgaan om hul pligte uit te voer.”

Foto ter illustrasie.


×