100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Thaba Chweu se Eskom-skuld nou meer as R1 miljard

Written by on June 4, 2021

Die Graskop-belastingbetalersvereniging ondersoek watter regstappe hulle kan neem teen Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM).
Volgens voorsitter, Lance Gibson, sal inwoners vanaf 1 Julie, wanneer die nuwe finansiële jaar afskop, 70% van hul aankope vir voorafbetaalde elektrisiteit aan die munisipaliteit verbeur, sodat hulle hul skuld aan Eskom kan betaal.
Tans hou die munisipaliteit 50%, met die oorblywende 50% waarmee inwoners elektrisiteit kan koop. TCM se skuld beloop tans R1,4 miljard, aldus Gibson.

Hy sê die armste mense word die meeste geraak en voer aan dat die openbare deelname proses gebrekkig was omdat munisipale amptenare nie by verskeie vergaderings opgedaag het nie.
“Ons het gevra dat dit uitgestel word, maar wat ons nou agtergekom het, is dat as die vergadering nie gehou is nie, hulle sê dit nie gesit het nie, so ons het nie ‘n sê nie.”
Drie uit die 14 wyke in die dorp het nie gesit nie, en “daarom gaan die verhogings deur sonder enige verdere konsultasie,” sê hy.
Mavin Pillay sê TCM wil vanaf 1 Julie ook ‘n spesiale fooi wat sakeondernemings moet betaal, met 12% vermeerder.
Volgens die munisipaliteit gaan kragtariewe met nie meer as 14,59% op.

Ander klagtes uit die gemeenskap sluit in ‘n spesiale fooi van R184 wat ‘n jaar gelede ingestel is en tot grootskaalse protesaksie gelei het. Dit is intussen wel afgeskaf, maar is nooit terugbetaal aan inwoners soos die munisipaliteit onderneem het nie.
Die belastingbetalersvereniging eis ook steeds dat hulle direk van Eskom elektrisiteit wil ontvang en die kragverskaffer direk wil betaal. Van hulle weerhou reeds sedert einde verlede jaar tariewe en belasting omdat hulle aanvoer dienste word in elk geval nie gelewer nie.
“Nie-betaling is tans meer as 50%, so hulle is in groot finansiële moeilikheid,” sê Gibson.
Hy verwag dat enige regsaksie ‘n lang, duur proses gaan wees, en hy het reeds aan die minister van samewerkende regering geskryf daaroor.
TCM is genader vir kommentaar.


×