100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Curriebeker 2023: Pumas boaan punteleer na vier rondes

Written by on April 3, 2023

Die Curriebeker-kampioene, die Airlink Pumas, het die Toyota Cheetahs Vrydagaand in Bloemfontein totaal oorrompel deur met 61-21 te wen.
Die Pienktruie kon nege drieë aanteken teenoor die drie van die Vrystaters en het daarmee hul plek boaan die punteleer ingeneem.

Foto: Kaptured Concepts

Die Airlink Pumas is nou die enigste onoorwonne span in die kompetisie.
Sien ook: Pumas steeds onoorwonne in Curriebeker
Heelagter Devon Williams het ‘n driekuns behaal. Die ander drieë is aangeteken deur Diego Appollis, Wian van Niekerk, Eduan Swart, Llewellyn Classen, Tinus De Beer en Stefan Coetzee.

Heelagter Devon Williams het ‘n driekuns behaal. Foto: Kaptured Concepts

Dit was die Cheetahs se eerste nederlaag van die toernooi. Hulle moes hul tweede span in die veld stoot aangesien hul eerstekeuse-spelers Saterdag teen Toulon in ‘n Europese Uitdaagbekerwedstryd gespeel het.
In Welkom het die Bulle vir die vierde keer ‘n nederlaag gely toe die Griffons ‘n geskiedkundige oorwinning van 32-28 behaal het.
Die Leeus kon hul tweede wen in ‘n ry behaal teen die Haaie met 34-22 by Ellispark te troef.
Die Pumas het nou 19 punte en drie bonuspunte soos die Cheetahs wat twee lê met 15 punte. Die Leeus het 13, gevolg deur die Haaie, WP en Griekwas wat elk tien punte het.
Die punteverskil vir die Pumas is nou 110; vir die Cheetahs is dit 48.
Die Pumas speel eerskomende Vrydag teen die Haaie in Durban. Die afskop is om 19:05.


×