100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Onderwysdepartement sê ‘nuwe normaal’ dalk ‘n oplossing vir tekort aan skole

Written by on September 30, 2020

Mpumalanga se onderwysdepartement sê die “nuwe normaal” wat deur die Covid-19-pandemie geskep is, bied dalk ‘n oplossing vir die tekort aan staatskole.
Daar is ‘n ernstige tekort aan plekke in skole, veral in dorpe wat vinnig groei, soos Mbombela.
Die ander dorpe wat die meeste geraak word, is Secunda, eMalahleni (Witbank) en Middelburg.
Volgens die woordvoerder van die departement, Jasper Zwane, werk skole tans weens die virus op ‘n rotasiebasis om dit moontlik vir leerlinge en leerkragte te maak om ‘n veilige afstand van mekaar te hou.
By party skole gaan kinders elke tweede week of tweede dag skool toe. By ander skole gaan die helfte van die leerders in die oggend, en die ander in die middag.
Volgens Zwane kan dié stelsel dit dalk moontlik maak om vir meer kinders plekke in skole te vind.

Sekere areas het ‘n groter vraag na skole. Die departement verwag egter dat dit vir 2021 nog groter gaan wees.
Hulle verwag dat baie leerlinge, weens die negatiewe uitwerking wat die pandemie op hul ouers se werk en inkomste gehad het, van areas sal moet verander.
Hulle verwag ook dat baie meer kinders wat voorheen in privaatskole was, vir dieselfde rede volgende jaar plek gaan benodig in ‘n staatskool.
Die departement het daarom die spertyd vir aansoeke vir plekke in alle grade in skole is uitgestel tot die einde van Oktober.
Zwane sê die virus het almal lesse geleer en daar moet daaruit geleer word om kinders se reg op opvoeding te realiseer.
Dit sal egter bepaal word deur die skool se situasie sowel as aansoeke.
“Ons moet meer buigsaam wees in ons benadering,” benadruk Zwane.
Hy het ouers aangemoedig om nie tot die laaste week in Oktober te wag om aansoek te doen nie, om die proses te vergemaklik.
Zwane het skoolhoofde en onderwysers verder bedank vir alles wat hulle moontlik gemaak het hierdie jaar.
“Skole is oop vir enige innovasie en aanpassing. Hulle verlang net eerlike en voortydige kommunikasie van ons af,” sluit hy af.
Aansoeke vir die 2021-skooljaar sluit op 30 Oktober.
Ouers moet ‘n aansoekvorm van die skool invul, die kind se geboortesertifikaat wys, ‘n rekord van hul immunisasie toon, asook ‘n oorplasingskaart van die vorige skool en laaste rapport byderhand hê.
As enige ouer probleme ondervind, kontak 080-020-3116 tolvry vir hulp.


×