100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ehlanzeni-man vereer vir bydrae tot krieketontwikkeling

Written by on September 29, 2020

Peet Welthagen doen al die afgelope jare baie vir die ontwikkeling van krieket in Mpumalanga.
Hy het Sondagaand tydens die jaarlikse Mpumalanga-sporttoekennings ‘n spesiale toekenning van die LUR vir sport en ontspanning daarvoor ontvang.
Welthagen is die voorsitter van Ehlanzeni Krieket en dien op die bestuur van Mpumalanga Krieket.
Hy is ook ‘n speler: linkshandige kolwer en medium-bouler. Boonop neem hy aan al wat ‘n sport is deel, ook pluimbal en jukskei.
Maar dit is sy bydrae tot die ontwikkeling van krieket wat aan hom die spesiale toekenning besorg het.
Hy sê daar is hubs waar ontwikkeling in Mpumalanga gedoen word, maar dit is nie genoeg nie.
“Ons het so ‘n groot area om te dek. Daar is altyd ruimte om daai outjies te ontwikkel.”
Tot dusver is sy eie ontwikkelingswerk egter op ‘n ad hoc-basis gedoen.
“Vincent Mokoena van Bosbokrand sou my bel en dan bied ons ‘n krieket-kliniek aan.”
Welthagen beplan egter om dit heelwat meer georganiseerd te maak. Saam met Ali Milanzi van Ligwalagwala FM het hulle ‘n nie-winsgewende organisasie, RPA Sport, gestig om dit voortaan beter te organiseer.
“Ons wil dit meer gestruktureerd doen sodat afrigters by skole in spanverband betrokke raak en daardie spanne in die Mpumalanga skoleligga kry.”
Buiten om plaaslike talent te identifiseer, moet meer afrigters, tellinghouers en skeidsregters in die streek ook opgelei word.
Daar lê egter nog ‘n pad vir hulle voor. Volgens Welthagen was klubkrieket veronderstel om in Oktober met ‘n liga te begin, maar dit sal waarskynlik eers in Januarie kan gebeur.
Vir nou beteken die erkenning van die werk wat hy reeds ingesit het, vir hom baie.

LUR Lindiwe Ntshalintshali het ook ‘n spesiale toekenning aan die legendariese sportaanbieder op Ligwalagwala FM, Mvikeli Stanford Mhlanga, toegeken.
Mhlanga tree af aan die einde van September, na 32 jaar op die lug.
Die Mpumalanga-sporttoekennings was egter nie sonder ‘n bietjie omstredenheid nie, met verskeie mense wat dit gekritiseer het dat dit glad nie in die provinsie gehou is nie, maar in Gauteng.
Woordvoerder van die provinsiale departement van sport en ontspanning, Sibongile Nkosi, sê die toekennings was weens inperking nie ‘n geleentheid nie en dit is daarom bloot by SuperSport se ateljee opgeneem.

“Ons moes die toekennings uitgee voor die Nasionale toekennings in November. Toe ons dit begin beplan het, was ons in vlak 5 van inperking, so mense was nie toegelaat nie,” sê sy.


×