100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mienke Mulder se lewe vandag herdenk

Written by on September 29, 2020

Mienke Mulder se gedenkdiens sal vanoggend op haar Facebook-blad uitgesaai word.
Die driejarige is twee weke gelede oorlede, nadat sy ernstige breinskade opgedoen het in 2017.
Haar ouers, Ryno en Verna Mulder, sê dit is baie moeilik om net 100 mense na die diens toe te mag nooi, omdat sy so baie vir soveel mense beteken het.
Kort na haar ongeluk het ondersteuners ‘n Pienk vir Mienke-veldtog van stapel gestuur. Mense is aangemoedig om elke Woensdag pienk te dra vir haar. Pienk armbandjies was ook die begin van fondsinsamelings om te help met haar mediese kostes.
Ryno het voorheen gesê die sigbare pienk het al baie vir die gesin beteken.

Hy het gister op die blad geskryf hoe hy na sy jongste dogtertjie verlang.
“Ek stap vanmiddag by die kerk in. My eerste gedagte is dit is uit ‘n sprokiesverhaal. Mienks, Mamma het werklik iets spesiaal bymekaar gekry ter nagedagtenis aan jou.
“Jy sal saam my stem dat sy haar beroep gemis het, want sy het ‘n gawe om ‘n gedagte te omskep in ‘n verhaal deur haar deursettingsvermoë en inisiatief. Dit lyk waarlik sprokiesmooi!
“Die rose staan soos soldate op aandag vir jou, dit spreek boeke en boeke vol van die liefde en ‘memories’. Jou foto’s die hele kerk vol los my met ‘n knop in my keel wat die ‘sinus’ wil laat bars soos ‘n vulkaan uit my uit.
“’n Hele span werk ‘non-stop’ na perfeksie, want dit is wat jy vir ons was, my bruinoog-feëprinsessie, net perfeksie.”

Ook daar is die eerste kleertjies wat sy ooit gedra het.
“Ek onthou dit soos gister, want dit was net amper gister wat jy gebore is. Die trane kon ek net nie meer keer nie, want ek sien daai dag in my kop. Ek onthou daai gevoel toe ek jou die eerste keer vas kon hou.
“So wens ek in my siel dat die tyd saam met jou net nog ‘n bietjie langer kon wees, want my hart en gees is nog nie reg vir die koebaai nie.”
Hy skryf hoe sy die aand voor haar dood nog by hom gelê het.
“My engeltjie, jy was vir my en Mamma meer as perfek. Jy was baie uniek en ons het jou sommer baaaaie lief gehad nes jy is. Met hart en siel mis ek jou, tot my laaste haar bibber as ek huil vir jou. Daar is ‘n seer in my, Mamma en jou sussies wat buite beheer is.”
Lees sy volledige skrywe op die “Please pray for Mienke”-blad.
Die uitsending begin om 10:15 met ‘n skyfievertoning. Die diens begin om 11:00.


×