100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike swemmers terug in die water

Written by on October 1, 2020

Plaaslike swemmers kon weens die Covid-pandemie nie soos gewoonlik vir die seisoen voorberei nie, maar hulle is terug in die water.
Swembaddens by party gimnasiums is reeds oop.
Van Riebeeck Park-swembad in Mbombela het onder vlak 1 van inperking ook heropen vir oefening en kompetisies, maar nie vir die algemene publiek nie.
Volgens die jongste inperkingsregulasies word samekomste by gimnasiums en swembaddens toegelaat, met ‘n beperking van 50% van die perseel se kapasiteit.
Volgens die woordvoerder van Mbombela-munisipaliteit, Joseph Ngala, sal gemeenskappe in kennis gestel word wanneer die munisipale swembaddens in Nelsville en Valencia heropen.
Intussen moet swemmers en swemklubs by Mpumalanga Swem en Swem Suid-Afrika registreer om permitte te bekom om te mag oefen.
Annelize Obermeyer, die sekretaresse van Mpumalanga Swem, sê hulle pas die reëls streng toe.
Hulle het verlede naweek reeds hul eerste gala gehad; helaas sonder toeskouers.

Volgens Obermeyer is dit bloot ‘n administrasieproses om te registreer en ‘n permit te ontvang.
Elke swemmer se temperatuur moet elke keer geneee word wanneer hulle by die swembad aanmeld, en hul moet die vraelys voltooi en maskers buite die swembad dra.
Die aantal swemmers wat in ‘n baan toegelaat word, word ook beperk.
Wat die seisoen betref is alles nou eintlik ‘n bietjie agter. “Gewoonlik teen hierdie tyd is ons outjies al baie fiks, maar baie van hulle begin nou eers oefen, so die seisoen is ‘n bietjie deurmekaar gegooi.”
Die volgende gala vind plaas die naweek voor die skole sluit.
Volwasse swemmers moet nou ook aan ‘n klub behoort, voeg sy by. “Ongelukkig, met die nuwe regulasies, moet almal wat wil oefen deel wees van ‘n swemklub. Hulle wil graag weet van almal wat in die water is,” sê sy.
Swemmers wat net af en toe aan oopwater-kompetisies deelneem kan gewoonlik teen ‘n laer tarief by ‘n klub registreer.
‘n Verdere R275 dek registrasie by Mpumalanga Swem vir die hele seisoen.
Al die klubs is op hul webtuiste beskikbaar by mpsswim.co.za.


×