100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ereveldwagters bied lewenslyn vir Kruger se honde-eenheid

Written by on October 1, 2020

Die Krugerwildtuin se sukses teen renosterstropery is grootendeels te danke aan die snuffelhonde, sê Johan de Beer, bestuurder van die wildtuin se honde-eenheid.
De Beer was voorheen by die polisie en Valke voor hy sowat agt jaar gelede die wildtuin se honde-eenheid op die been gebring het.
Hy het Woensdagaand by Trappers ‘n praatjie gelewer oor hoe suksesvol hulle stropers aankeer.
Destyds was daar slegs drie honde. Tans het hulle 39, nadat hulle hierdie jaar sewe verloor het.
Dit was weens verskillende redes. Die wêreldbekende Killer, wat 210 stropers help vastrek het, en in die rolprent “STROOP” te sien was, moes vroeër die jaar uitgesit word nadat sy heupe ingegee het en hy nie meer kon loop nie.
Hulle het reeds twee nuwe honde bekom, en behoort teen vroeg volgende jaar nog twee toe te voeg.
De Beer skryf die afname in renosterstroping in die park toe aan die honde, wat stropers gereeld vastrek voor hulle ‘n skoot kan afvuur.

Hierdie hoogs gespesialiseerde honde is egter geensins goedkoop nie.
Weens inperking is hul begroting boonop gesny. “Ons geld kom hoofsaaklik van die staat af en toerisme is die Kruger se grootste inkomste, so ons begrotings is gesny.”
Hulle koop die honde reeds opgelei, omdat De Beer nie die mannekrag het om hulle self op te lei en, baie belangrik, te sosialiseer, nie.
Dit kos sowat R60 000 vir ‘n hond en hulle eet duur kos. Hulle dra ook elk ‘n harnas (van R28 000) sodat hulle maklik opgespoor kan word.
Belgiese Malinois en Duitse Herdershonde werk goed, maar volgens De Beer kan slegs ‘n doberman-bloedhond kruising ou spore volg. “Al die spore wat ons kry is meer as 12 ure oud.”
Hy sê die Sanparke-ereveldwagters se ondersteuning help baie vir die eenheid se voortbestaan.
Besoek sanparksvolunteers.org vir meer inligting oor die K9 Watchdog National Project.


×