100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Oop grense verwelkom in die Laeveld

Written by on October 1, 2020

Die Laeveld kan ‘n sug van verligting slaak dat die land se grense weer oop is.
Vir die eerste keer sedert Maart word internasionale besoekers van Donderdag weer deur die grens gelaat.
Die departement van binnelandse sake verbied wel reisigers van 60 lande met hoë infeksiesyfers.
Dit is hoofsaaklik lande in Europa, die Midde-Ooste, Suid-Amerika en die Verenigde State.
Die president van die Kruger-Laeveld-sakekamer, Oupa Pilane, sê hy is baie bly dat besoekers van Mosambiek en Swaziland weer die land mag besoek, omdat hulle besonders belangrik is vir Mpumalanga se ekonomie.

“Die ekonomieë van munisipaliteite naby aan die grense, soos Nkomazi en Badplaas, oorleef grootliks deur besoekers van hierdie twee lande.
“Ander, soos Mbombela en die toeriste-aantreklikhede in die omgewing, maak ook op hulle staat.
“So ons is baie bly dat die grense oop is en dat hulle kan begin kom.”
Hy sê hulle verwag dat ‘n ekonomiese herstel tyd sal neem. “Ondernemings wat meestal op plaaslike toerisme staatmaak, begin reeds ‘n herstel sien.”
Tog is sekere lande op die lys, soos Brittanje, Frankryk en Amerika, noodsaaklik vir safari-geörienteerde ondernemings. “Ons dink nie daardie ondernemings sal vir veel langer kan oorleef nie.
“Ons is teleurgesteld dat hulle verbied is, maar dit is verstaanbaar. Dalk moet ons ook net daarop let dat alle areas van al die lande wat op die lys is, nie ewe erg geraak word nie.
“Ek hoop ons kan in die toekoms ‘n meer wetenskaplike manier vind om ook veilig vir daardie lande oop te maak.”
Verder het die sakekamer nie tans volledige data beskikbaar oor hoe die pandemie en inperking verskillende industrieë regtig geraak het nie. Dít win hulle nog in.
Die departement het aangekondig dat mense nou ook weer vir identiteitsdokumente en paspoorte kan aansoek doen.


×