100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Fondsinsameling vir Mbombela-pastoor gehou na fratsongeluk

Written by on October 2, 2020

‘n Fondsinsameling word Vrydag vir past. Cyzelle Fincham van die Grace Family Fellowship Nelspruit gehou.
Sy is drie weke gelede ernstig beseer in ‘n fratsongeluk toe ‘n jagvoertuig, waarin sy ‘n passasier was, op haar omgeslaan het.
Sy het twee van haar nekwerwels gekraak en ses ribbes, haar wangbene en bekkenbeen gebreek.
Cyzelle het verskeie operasies ondergaan, onder andere in die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria, waar haar bekkenbeen deur ‘n spesialis herstel is.

Sy is sedert Woensdag terug by die huis.
Haar seun, Joshua, se vriende het egter besluit om ‘n fondsinsameling vir haar te reël. Dit vind vanaand om 18:00 by Kwanyoni Lodge plaas.
Alle wins is ten bate van die Cyzelle Fincham-hulpfonds.
Haar man, Kelvin, wat ook ‘n pastoor by die kerk is, verduidelik dat hul mediese fonds slegs betaal vir haar hospitalisasie.
Die herstelpad wat voorlê, moet uit hul eie sakke kom. Sy benodig onder meer fisioterapie en spesiale velsorg vir haar wonde.

“Die fondsinsameling is gebore uit die kinders se harte en hul ouers het gehelp om dit te maak werk,” sê hy.
“Dit is oorweldigend om mense se harte te sien in ‘n tyd soos hierdie. Ons is baie dankbaar.”
Die fondsinsameling neem die vorm van ‘n driegangete. Dit beloop R200 per persoon.
Die kinders gaan self kelner speel.
‘n Veiling sal ook gehou word vir, onder andere, ‘n vakansie.
Lootjiekaartjies is teen R100 elk te koop vir sewe verskillende bokse. Dit sluit in koopbewyse van restaurante, salonne, en allerlei items wat deur plaaslike ondernemings bygedra is.
Vir meer inligting, kontak Mel by 066-215-7150.


×