100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga swaar getref deur oorstromings

Written by on February 15, 2023

Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sê Mpumalanga word die swaarste getref deur landwye oorstromings terwyl swaar reën steeds in dele van die land voorkom.
‘n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir die provinsie.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) is daar ‘n moontlikheid van donderstorms in die Laeveld en platorand vanaand en vroeg môreoggend wat die moontlikheid van nog plaaslike oorstromings vergroot.
Sien ook: Watervlakke oortref die van 2000, nog reën verwag
Die departement het bevestig dat 12 mense weens die oorstromings dood is. Hiervan was vier in Mpumalanga.
Die presidensie het Maandag ‘n ramptoestand afgekondig om die reaksie op die oorstromings te koördineer en tydelike blyplek, kos en komberse aan dakloses te verskaf.
Rampbestuurspanne in die Krugerwildtuin bly op ‘n hoë gereedheidsvlak.
Die Krokodilbrughek bly gesluit omdat water oor die brug vloei, maar die teerpaaie in die park is oopgestel.
Die woordvoerder, Ike Phaahla, sê hulle hou die situasie fyn dop en raai besoekers aan om uiters versigtig te wees.

Intussen eis die DA dat die provinsiale departement van openbare werke en vervoer met meer dringendheid reageer op paaie wat weens die rëen beskadig is.
Trudie Grove-Morgan sê hulle is besorg dat beskadigde paaie stadig gesluit word en motoriste nie genoegsaam gewaarsku word nie.
Sy sê oorsigbesoeke aan die Bulembu-pad sowel as die R40 tussen Witirivier en Hazyview wys dit behoort verder ineen te stort.
‘n Stop-en-ry is by laasgenoemde in plek, maar glo nie op die brug op die R538 buite Witrivier nie (sien foto).

Volgens Grove-Morgan het die party in die verlede reeds die LUR gevra om dié stuk pad te herstel.
“Ons verwag ‘n tragiese ongeluk as daar nie aan die brug aandag gegee word nie,” sê sy.

Intussen vra die provinsiale departement van samewerkende regering mense om nie waarskuwingstekens op paaie te verwyder nie.
‘n Woordvoerder, Moeti Mmusi, sê die R536 tussen Hazyview en Sabie is sedert gister gesluit, maar die tydelike waarskuwingstekens is verwyder.
Hy vra dat mense nie met dié tekens inmeng nie.

Mpumalanga rampbestuur vra dat mense van die paaie afbly


×