100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Familielede van veldwagters wat glo saam met sindikate werk verskyn in die hof

Written by on December 6, 2022

Nege familielede van twee voormalige veldwagters van Skukuza het gister in die hof verskyn op klagte van geldwassery wat verband hou met renosterstopery.
Die hoofverdagtes, Chikwa David Maluleke (60) en Solly Ubisi (46), is in April aangekeer vir beweerde korrupsie, geldwassery en bedrog verwant aan wildlewehandel.
Volgens Valke woordvoerder, kapt. Dineo Sekgotodi, het hulle inligting teen betaling aan stropingsindikate verskaf. Van die geld is in familielede se bankrekeninge inbetaal.

Hulle is na ‘n deeglike ondersoek deur KPMG met die kontantvloei verbind.
Die arrestasies vroeg Vrydagoggend in Limpopo en Mpumalanga was deel van operasie “Blood Orange”.
‘n Klopjag is ook op ‘n perseel in Gauteng uitgevoer. Wat na vermoede renosterhoringsaagsels is, is in ‘n swart sportsak in ‘n verskuilde kompartement in ‘n Volvo gevind, sowel as ‘n vertrek waar renosterhoring geprosesseer sou word.
Twee verdagtes word gesoek. Enigiemand met inligting is gevra om kol. Danie Hall by 071-481-3281 te kontak.
Maluleke se familielede Stephinah Mbhombi (52), Joyce Maluleke (51), Miyelani Maluleke (29), Oters Maluleke (27) en Nkhesane Maluleke (22) is gister elk borgtog van R5 000 toegestaan.
Alsina Mkhonto (61), Thandi Makhuvele (37), Ignatia Mnisi (36) en Given Mzimba (28), almal familielede van Ubisi, bly in aanhouding tot Donderdag, 8 Desember wanneer hul borgaansoek sal voortgaan.
Die saak teen Maluleke en Ubisi is tot 27 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek.


×