100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Die Covid-19 impak op toerisme

Written by on March 29, 2020

Alita Steenkamp

Die impak van Covid-19 op toerisme wêreldwyd is enorm. Linda Grimbeek, hoof operasionele beampte van die Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT) sê dit is ook die geval hier in Mpumalanga, wat ʼn toerismeparadys is. “Toerisme ly nie,” sê sy, “dis morsdood. Die eerste massa kansellasies het begin toe die grense van sekere lande gesluit is en mense nie meer toegelaat is om te reis nie. Met die instelling van die nasionale inperking vanaf 26 Maart het alles nou finaal tot stilstand gekom.”

Grimbeek sê voorts wat kommerwekkend is, is dat baie van die plaaslike hotelle, gastehuise en restaurante klein familiebesighede is en dus nie ʼn groot bufferfonds het om te help om deur die moeilike tydperk te kom nie. Al het die minister van Toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, R20 miljoen belowe as hulpfonds is daar nog groot onduidelikheid oor baie van die bepalings, onder meer hoe om daarvoor te eis. Daar is ook nog geen aanduiding wanneer die geld beskikbaar gestel sal word nie. Baie van die ondernemings word gedwing om hulle personeel op onbetaalde verlof huis toe te stuur, en dit het weer ʼn enorme impak in die gemeenskap. Sy is ook bekommerd dat die tydperk van inperking dalk verleng mag word soos wat elders in die wêreld gebeur.

Tog het elke donker wolk ʼn silwer randjie, sê Grimbeek. “Na enige wêreldkrisis is daar ʼn geweldige ekonomiese opbloei na die tyd. Ek glo dit sal ook met toerisme die geval wees. Nadat mense vir maande lank in hulle huise vasgevang is, sal hulle graag wil reis en verken Ek sal almal aanbeveel om die tyd wat ons in afsondering gedwing word nuttig te gebruik om met jou gesin te kommunikeer en dinge te geniet wat niks kos nie. Maak ook nóú planne oor jou besigheid se toekoms. Hoe gaan jy uiteindelik jou nuwe doelwitte bereik?”

Grimbeek moedig almal aan wat direk geraak word deur die negatiewe impak van COVID-19 op die toerismebedryf om nie in donkerte te verval nie. Van KLCBT gaan daar steeds nuusbriewe uitgestuur word met nuttige inligting daarin vervat.

“Die natuur snoei ons nou sodat die nuwe somer ʼn wonderlike oes kan oplewer en ons sal geduldig moet wag daarvoor. Bly positief, bly ingelig en besoek gereeld ons webblad om op hoogte van alles te bly,” sê sy.

Besoek https://klcbt.co.za/

 


×