100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laerskool Laeveld-leerlinge terug skool toe

Written by on July 21, 2023

Bouwerk by Laerskool Laeveld wat deur die provinsiale regering gedoen word, het sommige leerlinge die week verhoed om skool te hervat na die wintervakansie.

Die 12 juniorfase-klasse kon egter vanoggend terugkeer na die klaskamer.

Tydelike noodtrappe moes opgerig word aan ‘n gebou vir veiligheid in ‘n noodgeval, na ‘n stel trappe afgebreek is gedurende bouwerk wat deur die provinsiale regering by die skool gedoen word.

Die Mbombela-brandweer het die struktuur Woensdag geïnspekteer en die skool gistermiddag die groenlig gegee vir die leerlinge om terug te keer.

Laerskool Laeveld: Trap geïnspekteer, 20 Julie 09:16

Bouwerk by Laerskool Laeveld ontwrig reeds sedert Dinsdag sommige gr. 1, gr. 2 en gr. 3-leerlinge.

‘n Stel tydelike noodtrappe wat by Laerskool Laeveld opgerig is sodat 12 juniorfase-klasse skool kan hervat, is gistermiddag deur die Mbombela-brandweer geïnspekteer.

Die betrokke leerlinge kon Dinsdag nie met na die wintervakansie na die klaskamer terugkeer nie, weens bouwerk wat deur die provinsiale onderwysdepartement gedoen word.

‘n Stel trappe is afgebreek en ‘n tweede stel moes opgerig word vir veiligheid in ‘n noodgeval.

Die skool sê hulle wag op terugvoering van die brandweer oor die inspeksie.

Hulle het ouers vir hul geduld bedank.

Opdatering: Noodtrappe opgerig by Laerskool Laeveld, 19 Julie 13:26

Tydelike noodtrappe wat by Laerskool Laeveld opgerig word sodat 12 juniorfase-klasse skool kan hervat, sal op die vroegste vanmiddag geïnspekteer kan word.

Die skool het ouers wat geraak word deur die ontwrigting aan die gebou, weens bouwerk wat deur die provinsiale onderwysdepartement gedoen word, Vrydag reeds in kennis gestel dat hul kinders nie Dinsdag met die heropening van skole kan terugkeer na die klaskamer nie.

‘n Stel trappe is afgebreek tydens konstruksiewerk en die tweede stel trappe is nodig om veiligheid in ‘n noodgeval te verseker. Die skool werk onverpoosd om die situasie op te los.

‘n Subkontrakteur is aangestel om die werk te verrig.

Leerlinge word intussen soggens by die Hervormde Kerk in Belladonnastraat oor toesig gehou deur hul onderwysers.

Bouwerk keer dat leerlinge kan terugkeer skool toe, 17 Julie 12:16

Bouwerk by Laerskool Laeveld wat deur die provinsiale onderwysdepartement gedoen word, verhoed sommige leerlinge om môre skool te hervat.

Skole heropen op Mandela-dag na die wintervakansie vir die derde kwartaal van die skooljaar.

Twaalf gr. 1 tot gr. 3 klasse word egter deur die bouwerk by Laerskool Laeveld geaffekteer.

Die skool het ouers Vrydag in ‘n brief ingelig dat die Mbombela-brandweer ‘n kennisgewing uitgereik het oor ‘n stel trappe wat besig is om afgebreek te word, sonder dat ‘n alternatief vir veiligheid in ‘n noodgeval beskikbaar is.

Volgens die skool het die boukontrakteur versuim om tydens die skoolvakansie die tweede stel trappe te bou.

Volgens die skool is talle vergaderings met rolspelers oor die aangeleentheid gehou om dit so spoedig moontlik op te los.

Dit sluit in die skool se bestuurspan en beheerraad sowel as die departement van onderwys se infrastruktuur-span, kringbestuurder en distrik direkteur.

Aangesien die leerlinge nêrens anders op die perseel geakkomodeer kan word nie, is die besluit geneem dat hulle op ‘n later datum eers sal terugkeer skool toe.

“Ons is hartseer en teleurgesteld en stel graag die Laeveld-gemeenskap gerus dat ons alles in ons vermoë doen om ‘n oplossing te vind,” skryf die hoof, Neil Jacobs.

Die provinsiale onderwysdepartement het onderwysers en leerlinge intussen terugverwelkom wanneer die skole môre heropen.

‘n Woordvoerder, Gerald Sambo, sê dit is ‘n belangrike kwartaal aangesien dit die laaste is voor matrikulante met hul eindeksamen begin.

Hy vra dat alle rolspelers bydra om ‘n leergerigte omgewing te skep vir die leerders se voorbereiding.

Luister hier:

Sien ook: Dr André Hattingh bly “Ontractor”


×