100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Vyfde verdagte in Hillary Gardee-saak vrygelaat uit aanhouding

Written by on August 17, 2022

Die man wat Sondag ingeneem is vir ondervraging in verband met die moord op Hillary Gardee is vandag uit aanhouding vrygelaat sonder dat hy in die hof verskyn het.

Brig. Selvy Mohlala sê die saak is nie op die hofrol geplaas nie, en die Nasionale Vervolgingsgesag het die polisie instruksie gegee om ‘n kenner se opinie te bekom.

Die man word met Gardee verbind deur haar selfoon en skootrekenaar en staar ‘n klagte van regsverydeling in die gesig. Volgens Mohlala sal hulle hom dagvaar om te verskyn sodra hulle die nodige inligting bekom het.

===========

17 Augustus 09:10

‘n Vyfde verdagte word aangekla in verband met die moord op Hillary Gardee in Mbombela.
Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê die man, ‘n Nigeriese burger in sy middel 30’s, sal vandag in die hof verskyn.
Hy word aangekla van dwarsboming van die gereg. Hy is met haar selfoon en skootrekenaar aan Gardee verbind.

Die vierde verdagte, Rassie Nkuna (36), het gister in Kanyamazane verskyn vir die moord op twee ander vroue, sy vriendin, Pretty Mazibuko, en haar suster, ‘n polisiebeampte verbonde aan die Ngodwana-stasie, sers. Marcia Mazibuko op 15 Mei.

Die saak is uitgestel tot 6 September vir verdere ondersoek.
Lees meer: Vierde verdagte erken glo hy was betrokke by moord op Hillary Gardee
Drie ander verdagtes is reeds aangekeer weens die moord op Gardee. Haar liggaam is vroeg in Mei in ‘n plantasie buite die stad ontdek, nadat sy verskeie dae vermis was.
Sipho Lawrence Mkhatshwa (39) is op 6 Mei in Schoemansdal, Nkomazi gearresteer. Philemon Lukhele (47) en Albert “Khabzela” Gama (52) is kort daarna vasgetrek.
Hulle word aangekla van moord, verkragting, ontvoering, regsverydeling en sameswering om moord te pleeg.
Die borgaansoek van Lukhele en Gama is tot Dinsdag uitgestel. Die van Mkhatshwa is deur die hof van die hand gewys.


×