100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vlieënier sterf in vliegongeluk naby Nelspruit-vliegveld

Written by on November 9, 2020

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat hulle ‘n ondersoek geloods het na die noodlottige vliegongeluk wat Vrydagmiddag buite Nelspruit-vliegveld plaasgevind het.
Die vlieënier is intussen as André van Heerden geïdentifiseer.
Hy was die mede-eienaar van Summerfields Rose Retreat & Spa in Hazyview.
Hy was die enigste insittende ten tyde van die ongeluk.
Volgens Kabelo Ledwaba van die burgerlugvaartowerheid was Van Heerden in ‘n privaat vlug vanaf Hazyview na Nelspruit-vliegveld onderweg.
Die Cirrus SR-22 was besig om te land toe dit kort voor 16:00 net buite die ou lughawe neergestort het.
Netcare911 se helikopter-nooddienste was by die vliegveld toe die voorval kort voor 16:00 plaasgevind het, en het hulle na die toneel gehaas.
Volgens hulle is die ligte vliegtuig deur vlamme verswelg. Mbombela-brandweer het die brand geblus. Die vlieënier se liggaam is langs die wrak gevind.
Volgens Ledwaba het hulle reeds begin om bewyse in te samel, wat die omvang van die ondersoek sal bepaal.

“Ondersoeke verskil in kompleksiteit en neem soms tyd om af te handel,” sê hy.
“Sou ‘n belangrike veiligheidskwessie geïdentifiseer word deur die loop van die ondersoek, sal die span dadelik alle relevante partye daarvan in kennis stel sodat gepaste aksie geneem kan word.”
‘n Tussenstydse verslag behoort binne 30 dae van die ongeluk beskikbaar te wees.
Hy voeg by dat, waar ‘n ondersoek langer as 12 maande duur om af te handel, die ondersoekspan ‘n tussenstydse verklaring uit sal reik om aan te dui hoe die ondersoek vorder.
Die finale verslag bevat dikwels aanbevelings oor hoe om dergelike voorvalle in die toekoms te voorkom.


×