100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

GRATIS AANLYN LEES-EN-LUISTERBIBLIOTEEK

Written by on November 6, 2020

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het sy nuwe gratis aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekend gestel.

Die projek is van stapel gestuur na aanleiding van gesprekke met onderwysers oor leerders se gebrekkige leesvermoëns, en onrusbarende statistiek oor die afname van leesvaardighede onder eerstejaarstudente – alles tekens dat jongmense se blootstelling aan die Afrikaanse skrifbeeld aan die kwyn is.

Die allerbelangrikheid van goeie leesvermoëns kan nouliks oorbeklemtoon word. Jong leerders, en selfs hulle ouers, meen dikwels dat die tegnologiese ontwikkelinge wat ons die afgelope dertig jaar beleef het, ons in ʼn digitale eeu plaas waarin lees nie meer ʼn rol speel nie.

Intussen is die oorwig inligting wat ons in ʼn digitale omgewing kry, steeds in taal vasgevang. Die lees van ʼn teks op ʼn rekenaarskerm in plaas van in ʼn papierboek, verg presies dieselfde leesvaardigheid.

Leerders wat nie kan lees nie, kan geen vakinhoud behoorlik bemeester nie, want selfs vakke soos wiskunde, musiek, drama en tegnologie vereis van leerders om groot dele van die vakinhoud in die vorm van geskrewe teks te bemeester.

Afgesien van die gewone probleme wat leesonvermoë ʼn jong leerder besorg, is daar sekondêre probleme soos onkunde oor die wêreld waarin ons leef, ʼn gebrekkige woordeskat en uitdrukkingsvermoë, en onkunde oor die verband tussen die klank- en skrifbeeld van ʼn taal.

Mense wat nie lees nie, sukkel gewoonlik ook om te spel, omdat hulle nie op ʼn vermaaklike en gemaklike manier die taal se spelpatrone ontdek het nie. En dis hierdie leemte wat die lees-en-luisterbiblioteek beoog om te vul.
Die biblioteek is van nuuts af deur VivA geskep en gratis beskikbaar.

Op die oomblik het ons die tekste in twee ingedeel: een groep vir jong lesers, en ʼn ander vir volwasse lesers. Elke groep tekste is in vaardigheidsvlakke ingedeel, van heel beginners waar die klank by elke woord gepas word, tot romans wat net voorgelees word.

Die belangrike eienskap van die tekste in die biblioteek, is dat die klank- en skrifbeeld saam aangebied word. ʼn Gebruiker wat na die teks luister, sien dus ook terselfdertyd die skrifbeeld, en die verband tussen klank en spelling word duidelik gemaak.

Hoewel die nuus oor die projek groot opgewondenheid veroorsaak het, was dit ook verbasend moeilik om tekste daarvoor te kry. Ons het by verskeie uitgewers gaan aanklop om samewerkingsooreenkomste te sluit, maar kopieregwetgewing het ons gefnuik.

Die feit dat ons die materiaal gratis beskikbaar stel, het ook ʼn stok in die wiel veroorsaak, want uitgewers moet geld maak om te oorleef.

Uiteindelik moes ons op die goedheid van ons Afrikaanse skrywers staatmaak, en ons het tekste van groot name soos Fanie Viljoen, Christien Neser, Francois Bloemhof, Eben Venter, Elsa Winckler, Marion Holm, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Kristel Loots, Peet Venter en Reinette Lombard van Tippie-faam ontvang.

Professionele stemkunstenaars soos Marion Holm, Karin Hougaard, Esmarie Yssel en Altus Venables het gehelp met stemopnames.

Soos al VivA se projekte, is die lees-en-luisterbiblioteek ʼn lewende projek wat aangevul word soos wat Afrikaans groei en gedy.

Ons hoop om uiteindelik ʼn groot aantal tekste in die biblioteek te hê waarmee jong lesers en volwasse taalaanleerders Afrikaans in sy volle omvang sal kan ontdek sodat hulle nie net ʼn liefde vir lees nie, maar ook ʼn begrip vir die geskrewe woord sal ontwikkel.


×