100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Hillary Gardee-moordverdagte in die hof vir ‘n vierde moord

Written by on August 15, 2022

Hlabirwa Rasie Nkuna (36) het vandag in die Delmas-landdroshof verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy verlede Saterdag, 6 Augustus, sy vriendin in Sundra ontvoer, beroof en vermoor het. Hy word ook aangekla van die besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen, sowel as die moord op drie ander vroue.

Hy verskyn môre in Kanyamazane vir die moord, in Mei, op ‘n ander vriendin en haar suster, ‘n polisiesersant. 

Brig. Selvy Mohlala sê dit is onduidelik presies wanneer hy in Nelspruit sal verskyn vir die moord, in April, op Hillary Gardee.

==========

15 Augustus, 10:45

’n Vierde verdagte is in verband met die moord op Hillary Gardee in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
Die liggaam van die 28-jarige dogter van Godrich Gardee, voormalige sekretaris-generaal van die EFF, is in Mei in ‘n plantasie gevind, verskeie dae na sy vermis geraak het.
Sy is na bewering vanaf Nelspruit Plaza ontvoer. Sy is glo verkrag en in die kop geskiet.
Lees meer: Familie sê Hillary Gardee is in haar agterkop geskiet
Sipho Lawrence Mkhatshwa (39) is op 6 Mei in Schoemansdal, Nkomazi aangekeer. Philemon Lukhele (47) en Albert “Khabzela” Gama (52) is kort daarna gearresteer.
Hulle word aangekla van moord, verkragting, ontvoering, regsverydeling en sameswering om moord te pleeg.
Die 39-jarige verdagte wat Donderdag in KwaThema naby Springs in Gauteng aangekeer is, is as ‘n moontlike reeksmoordenaar beskryf deur die Mpumalanga polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela.
Sy het aan eNCA gesê die verdagte word aan die moord op drie ander vroue in Mpumalanga gekoppel.
Dit sluit in die van sy vriendin in eMalahleni op 6 Augustus asook die van ‘n ander vriendin en haar suster in KaNyamazane.
Brig. Selvy Mohlala het destyds gesê die man en sy vriendin, Pretty* Mazibuko, het ‘n argument gehad op 15 Mei.
Haar suster, ‘n polisiesersant verbonde aan die Ngodwana-stasie, het tussenbeide getree saam met twee ander vroue.
Die man is daar weg en het teruggekeer met ‘n vuurwapen.
Hy het glo sy vriendin geskiet in die kar waarin sy probeer vlug het.
Sers. Marcia* Mazibuko is in die huis geskiet voor die verdagte gevlug het.
‘n Lasbrief is later in Mei vir sy arrestasie uitgereik.
Lees meer: Mannejag geloods na man twee susters skiet
Hy was glo in besit van ‘n vuurwapen sonder ‘n reeksnommer ten tyde van sy arrestasie.
Die borgtogaansoek van twee van die drie ander verdagtes is tot volgende Dinsdag uitgestel.
Lukhele en Gama bly in aanhouding omdat daar nie ‘n landdros beskikbaar was nie.
Die aansoek van Mkhatshwa is van die hand gewys.

*Die berig het aanvanklik aangedui Pretty Mazibuko was die polisiesersant en Marcia Mazibuko was Nkuna se vriendin. 


×