100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vier vas weens vuurwapens na wenk van die publiek

Written by on August 31, 2022

Vier verdagtes is gister op die R40 in Dwarsloop buite Bosbokrand aangekeer nadat die polisie op ‘n wenk reageer het.
Volgens brig. Selvy Mohlala is twee handwapens sonder reeksnommers sowel as 33 rondes ammunisie in hul besit gevind.
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, het die gemeenskap geloof vir hul samewerking met die polisie om moontlike ernstige misdaad te voorkom.
Volgens Mohlala is die wit Polo waarin hulle gery het nie as gesteel aangemeld nie, maar hulle ondersoek of hulle met ander misdade verbind kan word.

Hulle verskyn vandag op klagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Twee vroue en ‘n man sal na verwagting vandag in die Nkomazi-landdroshof verskyn op klagte van dwelmhandel, na die polisie gister sowat 100 kg dagga by Mangweni naby Tonga gekonfiskeer het.
Die verdagtes is gearresteer toe die polisie op die sakke dagga afgekom het na hulle die minibus gestop en deursoek het.
Dit het ‘n beraamde straatwaarde van ongeveer R150 000.
Intussen word ‘n 34-jarige reeksverkragter vandag in die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela gevonnis.
Thokozani Prince Mazibuko is gister skuldig bevind op vier klagte van verkragting, twee van huisbraak asook huisroof en diefstal.
Hy het by drie geleenthede in 2013 by huise in Nkomazi ingebreek en twee tieners en ‘n jong vrou verkrag.
Die vierde slagoffer is in Januarie 2017 op straat aangeval.
Mazibuko is in Januarie 2020 aangekeer vir ‘n afsonderlike geval in Matsulu. Dié saak is nog nie afgehandel nie.
Mohlala sê hy het deurgaans die identiteit van medepligtiges, wat van die misdade saam met hom gepleeg het, beskerm.
Drie voormalige amptenare van Msukalikwa-munisipaliteit het Maandag in die Ermelo-landdroshof verskyn op klagte van bedrog, diefstal en oortreding van die wet op openbare finansiële bestuur.
Volgens die Valke het twee voormalige stadsbestuurders, Theron Zwelishe Shongwe en Thusi Hezekiel Kubheka, en ‘n voormalige gemeenskapsdiensbestuurder, Masego Mmabatho Matsheka, na bewering tussen 2014 en 2018 munisipale eiendom verkoop en geruil vir eie gewin.

Dit sluit in ‘n waterreservoir en -pomp waartydens die korrekte verkrygingsprosedures nie gevolg is nie.
Elk is borgtog van R5 000 toegestaan. Die saak is uitgestel tot 6 Oktober.
Kapt. Dineo Sekgotodi sê nog arrestasies word verwag.


×