100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verdagte gevang met meer as R1 miljoen dagga

Written by on August 22, 2022

‘n 30-jarige man van Eswatini verskyn môre in die Nkomazi-landdroshof op klagte van daggahandel, na hy gister met 31 sakke dagga met ‘n geraamde waarde van meer as R1 miljoen vasgetrek is.
Dit was tydens ‘n stop en deursoek operasie by Buffelspruit langs die Jeppes Reef-grenspos. Die polisie glo die besending was onderweg na Gauteng.
Saterdagaand is ‘n man tydens ‘n kaping by Calcutta naby Bosbokrand doodgeskiet.
‘n Groep gewapende mans het Nelson Shabangu (49) glo in sy silwer Toyota Corolla voorgelê. Hy het probeer wegjaag maar het ‘n boom getref, en is verskeie kere in sy voertuig geskiet voor die aanvallers gevlug het.
Hy is op die toneel dood verklaar. Die polisie glo dat hy een van die aanvallers herken het. Enigiemand met inligting oor ‘n ene Philile Letsoalo is gevra om die ondersoekbeampte te kontak by 082-319-9843.
‘n 38-jarige man wat sy 17-jarige biologiese dogter swanger gemaak het, is vir 22 jaar tronk toe gestuur vir verkragting.
Die voorval het in Maart 2019 by Mahushu naby Hazyview plaasgevind.
Volgens die polisie is sy onder valse voorwendsels gelok na haar grootouers se huis, waar haar pa ook woon. Hy het saam met haar huis toe gestap, maar haar op pad met ‘n vuurwapen gedreig en verkrag.
Donderdag moes twee verdagtes gered word van woedende inwoners van Shatale in Bosbokrand.
Hulle het glo ‘n afleweringsvoertuig met vuurwapens probeer kaap, toe gemeenskapslede saamgespan het om hulle aan te keer. Beide mans is tans onder polisiebewaking in die hospitaal weens die beserings wat hulle opgedoen het.
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakalen Manamela, het die arrestasie en terugkry van die vuurwapens verwelkom.
‘n Vragmotorbestuurder bly in aanhouding na hy Woensdag by die Nkomazi-tolhek op die N4 vasgetrek is. Hy het na bewering met ‘n gesteelde Standard Bank-vlootkaart betaal.

Phinda Alex Ndlovu (25) het Donderdag in die hof in Low’s Creek verskyn. Volgens die Valke is die kaart verskeie keer sedert Julie 2020 op die roete gebruik ter bedrae van meer as R72 000.
‘n Gekloonde FNB- en Nedbankkaart is ook in sy besit gevind. Hy word aangekla van onder meer bedrog. Die saak is uitgestel tot 25 Augustus vir verdere ondersoek.
Drie vermeende kapers is Dinsdag aangekeer. Hulle was na bewering in besit van ‘n gekaapte vragmotor met sy vrag wat Dinsdag in Waterval Boven gekaap is.
Die vragmotor is in Badfontein naby Lydenburg opgespoor. Volgens die polisie werk een van die verdagtes vir die vragmotormaatskappy.


×