100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Thaba Chweu skaf omstrede elektrisiteitsfooi af

Written by on August 13, 2020

Die gemeenskap se voorgesette protes teen Thaba Chweu-munisipaliteit se verhoogde tariewe en omstrede elektrisiteitsfooi, het vrugte afgewerp.
Die raad het Donderdag die gewraakte fooi van R184.23 tydens ‘n raadsvergadering afgeskaf.
Hulle het ook gestem om die tariefverhogings van ongeveer 10% wat in Julie in werking getree het, te verminder na slegs 6,4%.
Comfort Sibiya, die DA se voorsitter in Thaba Chweu, sê ‘n behoorlike openbare deelnameproses sal nou gevolg word.

Inwoners van Mashishing (Lydenburg), Graskop en Sabie het in Julie betoog teen die nuwe tariewe. Hulle voer aan dat daar nie met hulle gekonsulteer is nie.
Die nuwe tariewe is nooit deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur nie.
Thaba Chweu het verduidelik dat hulle dit ingestel het om hul astronomiese Eskom-skuld, van nagenoeg R760 miljoen, te help vereffen.
Inwoners voer weer aan dat hulle nie die verhogings kan bekostig nie. Veral dorpe soos Sabie en Graskop, wat grootliks op toerisme staatmaak, is hard getref deur die impak van die grendelstaat.
Intussen het inwoners van Graskop die munisipaliteit verhoed om te werk, in Lydenburg is hofaksie beplan en Sabie het die energiereguleerder gevra om in te gryp.
Volgens Sibiya is die munisipaliteit in ‘n finansiële penarie weens hul eie wanbestuur.
“Ons ondersoek dui daarop dat sowat 6 000 van 18 000 elektrisiteitsmeters nie geregistreer is nie en daardie geld bereik nooit die munisipaliteit nie. Dit word gesteel en kos ons R26 miljoen per jaar,” sê hy.
In Graskop is ‘n grootskaalse protes vir Maandag beoog. Dit is afgeskaf nadat die elektrisiteitsfooi geskrap is.
Lance Gibson sê egter die beplande gemeenskapsvergadering gaan steeds voort, omdat al hul griewe nie aangespreek is nie.
Hulle wil onder meer hul elektrisiteit voortaan direk by Eskom koop.


×