100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

SANParke waarsku besoekers om by reëls te hou

Written by on August 13, 2020

Verblyfgeriewe heropen Vrydag in die Krugerwildtuin.
SANParke het besoekers egter gemaan dat inperkingsregulasies streng afgedwing sal word.
Interprovinsiale reise word steeds verbied en inwoners van Mpumalanga mag daarom slegs verblyf in die provinsie gebruik. Die Olifantsrivier word as die grens met Limpopo beskou.
Die kampe by Balule, Roodewal, Tamboti, Talamati, Skukuza, Berg-en-Dal, Malelane, Biyamiti, Laer Sabie en Krokodilbrug maak almal môre oop vir besoekers van Mpumalanga.
Satara en Pretoriuskop sal eers Maandag weer in gebruik geneem word.
Die Nasionale Krugerwildtuin se uitvoerende hoof, Gareth Coleman, verduidelik dat hulle in fases heropen.
“Die inperkingsregulasies word voortdurend aangepas. Dit is daarom van uiterste belang dat ons ook aanpas om te verseker dat ons besoekers hul ervaring, ondanks die pandemie, geniet.
“Reëls in terme van beskermende kleredrag, opleiding en persoonlike besonderhede sal streng gevolg word. Ons vra dat besoekers saam met ons werk om daarby te hou.”
Gesigmaskers is verpligtend, en voertuie mag slegs 70% vol wees. Die park het ook gevra dat besoekers hul rommel sover moontlik nie in die wildtuin agterlaat nie.
Rey Thakhuli, woordvoerder van SANParke, sê mense moet ‘n bewys van hul adresse lewer wanneer hulle besprekings maak.

“Ons was vir baie lank toe. Ons is opgewonde om besoekers weer terug te verwelkom.”
Thakhuli het bygevoeg dat hulle gereed is en geen kwessies verwag nie. SANParke het besoekers aangemoedig om wel enigiets te rapporteer.
Om by SANParke te bespreek, of seker te maak wat in verskillende provinsies val, skakel 012-428-9111.


×