100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Spoor loop dood in soektog na vrou wat glo by Alzu ontvoer is

Written by on February 25, 2021

Die soektog na ‘n vrou wat Dinsdag glo by Alzu op die N4 ontvoer is, word stelselmatig afgeskaal, nadat veiligheidsgroepe wat sedertien na haar soek geen spoor van haar kon vind nie.
‘n Ooggetuie voer aan dat vier mans die vrou aangeval en in ‘n groen Golf ingedwing het. Hulle het ook met haar eie kar in Middelburg se rigting gevlug.
Al wat bekend is van haar is dat sy lang blonde hare het.
Volgens Bossies Community Justice se Albert Gryvenstein het die ondersoek nog niks opgelewer nie: Niemand wat haar beskrywing pas is as vermis aangemeld nie, en hulle kon nie die voertuie op die beskikbare videobeelde van die omgewing sien nie.
Die voorval het blykbaar buite die kameraveld by die vulstasie gebeur.

AfriForum se buurtwaggroepe in Middelburg, Belfast en Carolina en die Sektor 3 radiogroep het gekoördineerde patrollies op plaaspaaie gevoer in die omgewing tussen Middelburg en Belfast, en in Hendrina se rigting.
Gemeenskapspolisiëring en polisielede het ook help saam soek, sê Wayne Hill, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.
Hy het bevestig dat hulle gister inligting ontvang het, maar dit het op niks uitgeloop nie.
Volgens Gryvenstein kan hulle nie verder soek sonder nuwe inligting nie.
“Dit word nou stelselmatig afgelas, want ons het niks nie. Dit is moeilik, want as geen van die kameras dit optel nie, kan jy dit nie bevestig nie.”


×