100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

DA skepties oor Mbombela se plan met krediteure

Written by on February 25, 2021

Mbombela-munisipaliteit sê hulle het ‘n plan ontwikkel om hul krediteure te betaal.
Onbetaalde krediteure bly baie hoog en staan nou op R1,2 miljard. Terselfdetyd word die munisipaliteit sowat R800 miljoen geskuld.
Die plan met krediteure is egter nie vanoggend tydens die verstelling aan die begroting vir die finansiële jaar, wat einde Junie ten einde loop, aan die stadsraad voorgelê nie.
Die DA se hoofsweep in die raad, Sanley van der Merwe, sê hulle het ingestem om dit aan haar te verskaf. Die plan sluit glo verbintenisse en datums in van wanneer betaling aan verskillende krediteure gemaak sal word.
Van der Merwe voeg by dat ‘n een-bladsy plan al in 2019 voorgelê is. Haar groot bekommernis is die honderde klein ondernemings aan wie geld verskuldig is.
“Die plan wat hulle vir my gaan gee, gaan tien teen een fokus op die top 10, soos Eskom en die departement van water en sanitasie. Vir die ander gaan hulle sê hulle het finansiële uitdagings,” sê sy.

Die DA het verskeie bedenkinge oor die verstelling aan die begroting.
“Daar moet bewyse wees dat jou invorderingskoers verbeter het. Gewoonlik sit hulle dit op so 90%. Hulle het dit in Julie afgebring na 80%. Nou sê hulle daar is 4% meer ingevorder, maar hulle wys nie vir ons hóé nie.”
“Eerstens, hoor ons heeldag en aldag hoe die munisipaliteit gebuk gaan onder finansiële druk en hoe Covid almal so seer gemaak het en dat hulle sukkel om hul geld in te vorder.
“Tweedens, is dit volgens die halfjaarverslag duidelik hoe ons agterstallige skuld van debiteure die hoogte inskiet.”
Bygesê, handhaaf die munisipaliteit die afgelope vier jaar ‘n werklike invorderingskoers van tussen 83% en 86%, volgens die ouditeur-generaal.
Die algehele begroting is afwaarts aangepas met R17 miljoen (van R4 177 miljard na R4 160 miljard). Operasionele uitgawes is met R8 miljoen verminder.
Kapitaaluitgawes kry R9 miljoen meer, operasionele inkomste is vermeerder met R56 miljoen en R72 miljoen is by voorwaardelike toelaes gevoeg.
Van der Merwe het baie vrae oor die R30 miljoen uit die operasionele begroting wat vir rampbestuur eenkant gesit is. “Hulle het ons nie gesê hoe hulle dit gaan aanwend nie.”
‘n Ander groot kwelling is die installasie van hoëmas-ligte waaraan R21 miljoen reeds bestee is, en nog R12 miljoen nou voor bewillig is.
“Daar is baie vrae oor die ligte, wat ons nie weet waar dit geïnstalleer is nie. Op ander plekke is die kwaliteit so swak jy weet nie eens daar is ‘n lig nie,” sluit Van der Merwe af.
Mbombela is ook besig om ‘n beleid oor grondbesettings te ontwikkel om die opbloei van informele nedersettings te keer omdat dit “toekomstige beplanning en dienslewering belemmer”.



×