100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Soektog duur voort na vermiste veldwagter

Written by on December 8, 2020

Dit is vandag presies drie weke sedert Checkers Mashego (51) in die Krugerwildtuin vermis geraak het.
Die ervare veldwagter is laas op 17 November in die Stolsnek-area gesien. Hy was saam met ‘n kollega op ‘n roetine-patrollie toe hulle net voor laaste lig verwittig is om iets verdag langs die Nsilikazi-rivierbedding te ondersoek.
Hulle het uiteen gegaan en het afgespreek om by ‘n brandstrook te ontmoet. Mashego het nooit by die ontmoetingsplek opgedaag nie en sy kollega het alarm gemaak.
Sedertien word daar sonder ophou na Mashego gesoek, ook deur die gemeenskap waar hy woon.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, sê hulle het die hele gemeenskap se hulp nodig.
“Waar dit by misdaad kom, het ons almal nodig. Die gemeenskap is ons oë en ore.”
Hy voeg by dat die polisie elke leidraad en elke stuk inligting wat hulle van die publiek ontvang, opvolg. Dit het egter nog niks opgelewer nie.

“Ons soek steeds na hom. Ons werk saam met die wildtuin en al ons ander vennote. Ons kan nie bespiegel wat kon gebeur het nie.
“Ons kan nie sê daar was vuilspel nie, want daar is nie bewyse voor nie,” voeg Mdhluli by.
Hy het bevestig dat die soektog nie tot die Krugerwildtuin beperk is nie.
Volgens die wildtuin se woordvoerder, Ike Phaahla, is dit die eerste keer dat iemand so lank vermis is. Voorheen, in 2007, het hulle in die Singwedzi-area ‘n veldwagter kortstondig verloor toe sy groep deur ‘n trop olifante aangeval is.
Die polisie moedig enigiemand met inligting aan om hulle te kontak by 086-001-0111 of om die inligting via die MySapsApp te stuur. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.



×