100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Roof by Badplaas-polisiekantoor as minagtend bestempel

Written by on September 14, 2020

Die polisie is steeds op soek na drie verdagtes wat die polisiestasie in Badplaas vroeg Saterdagoggend beroof het.
Volgens die polisiewoordvoerder, kol. Brenda Muridili, het drie mans om ongeveer 00:39 die stasie met pistole betree.
Twee polisielede wat aan diens was, se dienswapens is by hulle afgeneem.
Hulle is forseer om die kluis oop te sluit. ‘n R5-aanvalsgeweer is geneem, asook kontant.
Die verdagtes het daarna te voet gevlug.
Volgens Muridili is geen arrestasies nog gemaak nie. Geen skote is tydens die roof afgevuur nie.

Enigiemand met inligting oor die voorval word aangemoedig om die polisie te kontak by 086-001-0111 of die MySAPS-program.
Die VF+ voer aan dat die rooftog op minagting vir die polisie dui.
Die party se leier in Mpumalanga, Werner Weber, het in ‘n verklaring gesê die waaghalsige rooftog wys ‘n totale minagting teenoor die polisie.
“(Ons) veroordeel hierdie voorval ten sterkste. Dit is ‘n goeie toonbeeld van die vlakke van wetteloosheid in Suid-Afrika asook die minagting wat misdadigers vir die polisie het.
“Hierdie minagting is die produk van swak vervolging en ontoereikende strawwe en die VF+ sal altyd vra dat misdadigers wie se voorneme dit is om te roof en te moor, die swaarste strawwe moontlik opgelê word.”
Volgens Weber word outomatiese aanvalsgewere verreweg die meeste gebruik in transito-rooftogte en meermale in plaasaanvalle “waarteen gewone burgerlikes totaal magteloos staan. Hierdie soort wapens mag nie in die hande van misdadigers beland nie.”
Hy voeg by dat ‘n voorval soos hierdie vrae laat ontstaan oor die polisie se weerbaarheid en die gebrek aan mannekrag in polisiekantore.


×