100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Riverside-bloedbank skuif Grove toe, kort dringend skenkings

Written by on December 11, 2020

Die bloedbank skuif van Riverside Mall na die Grove-sentrum. Hulle sal vanaf Maandag tussen PostNet en die Crazy Store te vinde wees.
Lebo Matsimbi sê hulle het meer spasie nodig en die perseel in Riverside Mall het te klein geraak, veral noudat mense plasma kan skenk. Dié proses neem ‘n bietjie langer as gewone skenkings.

Mense kan reeds sedert Augustus 2019 by i’langa Mall plasma skenk. Dit is veral nuttig vir traumapasiënte en mense met bloedstollingsiektes.
Waar die O-bloedgroep universele skenkers is van bloed, is die AB-groep universele skenkers van plasma. Dit beteken alle pasiënte, ongeag hul eie bloedgroep, kan plasma van sulke skenkers ontvang. Die A-bloedgroep is ook baie geskik vir plasma-skening.

Die proses is soortgelyk daaraan om bloed te skenk. Dit neem wel langer omdat die rooibloedselle en plaatjies teruggegee word aan die skenker.
Vooraf word die skenker se bloeddruk en ystervlakke getoets en ‘n vraelys word ingevul.
Die verskil is dat mense ten minste 18 jaar oud moet wees om plasma te kan skenk, teenoor 16 jaar oud vir bloed. Jy kan ook elke twee weke plasma skenk, teenoor elke 56 dae vir bloedskenk.
Nasionaal is hul voorraad bloed kritiek laag, wat meer as 3 000 lewens in gevaar stel. Dié mense is afhanklik van bloedprodukte.
“Daar is mense met lewensgevaarlike toestande wie se lewe in gevaar is weens ‘n bloedtekort,” sê Matsimbi.

Sy skryf die tekort toe aan die feesseisoen en Covid-19-pandemie.
“Ons grootste bron van bloed is skole, tersiêre instellings en sakeondernemings. Weens die pandemie kon ons deur die jaar nie soveel daar kry nie, en nou is baie plekke toe vir die feesseisoen.”
Die bloedbank benodig sowat 3 500 eenhede per dag om die landwye vraag te vul. Tans staan hul voorraad op slegs 3,5 dae – teenoor die vyf dae waarvoor hulle mik.
Matsimbi het mense wat nog nooit nie, of wat lank laas geskenk het, aangemoedig om dit te doen.
Die ander skenkersentrum in Mbombela bly by i’langa Mall.



×