100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas slaggereed vir tweede ronde teen WP

Written by on December 11, 2020

Die Phakisa Pumas is gereed en opgewonde om die DHL WP vanaand in Kaapstad te pak.
Pumas-harte is in Oktober gebreek toe die Kapenaars in die laaste minute van hul vorige kragmeting, tydens die Super Rugby Unlocked-reeks, ‘n drie kon aanteken om die wedstryd te wen.
‘n Wen vanaand sal die Pumas se kanse om na die semifinale van die Curriebeker deur te dring ook lewendig hou.
Verder het die WP verskeie uitdagings, op en van die veld af, sê Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse.
“Die feit dat hul voorste drie in die Wêreldbeker-eindstryd gespeel het, sit geweldige druk op ‘n ou, maar dat ons geweldig uitsien na die geleentheid is vir seker so.
“Hulle is ‘n magtige span met Springbokke, maar hulle het self ‘n klomp beserings en moeilikheid in die raadsale waar ons ‘n bietjie op ‘n “high” is (na die wen teen die Griekwas verlede week).
“Die spelers moet net die vertroue hê wat hulle elke week het voor hulle foute begin maak. Dis wanneer dit teen jou begin tel.”
Pieter Jansen van Vuren is terug as die pienk truie se kaptein. Japie Kleinhans maak sy Curriebeker-debuut, sou hy speel. So ook Ewart Potgieter wat in verlede week se span ingesluit was, maar nie speeltyd gekry het nie.
Die 18-jarige Tiaan Botes begin egter en maak sy debuut op losskakel. Devon Williams, wat die laaste twee wedstryde die nr. 10-trui gedra het, begin op die reserwebank.
Stonehouse verduidelik die besluit.

“Ons drie losskakels is uit, so ons het Devon losskakel toe geskuif. Sou Devon seerkry, het ons niemand anders wat al in daardie posisie gespeel het nie, daarom gee ons Tiaan die geleentheid om ‘n bietjie te speel en vertroud te raak met die bewegings.
“Ons laaste drie wedstryde is almal tuis, en soos almal weet het jy, as jy tuis speel, ‘n baie beter kans. Dis hoekom ons nou ‘n bietjie roteer om hom kans te gee, om te kyk wat hy in hom het.”
Die WP het sedert 1997 slegs twee keer teen die Pumas in die Curriebeker verloor. Die laaste keer tuis was in 1999.
Die wedstryd skop om 19:00 af.



×