100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Restaurante neem aksie teen inperkingsregulasies

Written by on July 16, 2020

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) beplan om Woensdag vreedsaam protes aan te teken teen die regulasies wat die bedryf tans lamlê.
Veral die verbod op drank het ‘n verwoestende uitwerking.
Tracey Golitz van Da Loose Mongoose Country Restaurant and Pizzeria buite Witrivier, verduidelik dit só: “Mense gaan nie na ‘n restaurant toe omdat hulle noodwendig honger is nie. Dit gaan oor die ervaring, veral saam met vriende.”

Die verbod daarop om ‘n drankie te geniet en sosiale distansiëring is maar net van die probleme.
Plaaslike restaurante sê egter hulle het nie ‘n keuse as om oop te wees nie.
Golitz sê dit het Da Loose Mongoose geensins gehelp dat hulle vroeër, soos drankwinkels, alkohol mag verkoop het nie.
“Dit is ‘n groot bederf om tans ‘n restaurant te kan besoek. Daar is min mense wat dit nog kan bekostig en desperaat is om uit te kom. Dan kom ondersteun hulle jou, maar hulle mag nie ‘n glas wyn geniet nie.”
Sy moes die dae wat hulle oop is en hul aanbiedinge verminder.
“Ek breek net gelyk. Ek gaan moet besin oor of ek oop gaan kan bly.”
Orange Restaurant in Mbombela se Lee-Ann Heine van Zweel stem saam met Golitz dat dit amper nie die moeite werd is om oop te wees sonder om drank te kan verkoop nie.
“Dit is ten minste 60% van mense se omset. Soms tot 70%. Dit gaan nog baie seer maak.”
Boonop neem dit ‘n groot hap uit kelners se fooitjies, maar om iets te verdien is op hierdie stadium beter as niks. “Dit hou almal net aan die lewe,” sê sy.
Orange moes sny waar hulle kan en het ook ‘n kleiner spyskaart en is Sondae toe.
Tog is die alternatief om hul deure heeltemal te sluit – en die werksverliese wat daarmee saamgaan in vir eienaars ondenkbaar.

“Ons was vir amper vier maande toe,” sê Van Zweel. “Ons moes oopmaak anders sou ons moes likwideer.
“Ons moet oop bly. Ons het nie ‘n keuse nie. Ons moet aangaan en hoop in ‘n stadium gaan hierdie gemors uitgesorteer word. Ons volg maar net die reëls – streng.
“Dit is tans nog stillerig, maar ek glo mense wil uitgaan. Ons is positief.”
The Greek Kouzina het ook op 6 Julie heropen. Die bestuur beaam dat ure beperk word en minder mense werk.
“In die belang van ons werknemers en die restaurant, moet ons oop wees, anders verloor mense hul werk.”
Rasa beraam dat 400 000 mense landwyd reeds hul werk verloor het, en hulle verwag meer.
Daarom beplan hulle Woensdag die “Million seats on the streets”-protes. Dit nooi restauranteienaars om saam met hul werknemers die strate voor hul eetplekke met hul tafels en stoele te blokkeer.
Die doel is om die verwoestende uitwerking van die huidige regulasies op die bedryf te beklemtoon.
Rasa voorsitter, Wendy Alberts, het ook bevestig dat hulle beplan om die regering hof toe te neem, om die gelde wat restaurante vir hul dranklisensies moes betaal, terug te kry, omdat hulle dit nie mag gebruik nie.
Hulle hoop dit plaas druk op die regering om hul beleid aan te pas.

Bronne: Wendy Alberts, RASA’s Million Seats On The Street Facebook-groep, Deon van Greek Kouzina, Tracey Golitz en Lee-Ann Heine van Zweel.


×