100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog polisiestasies tydelik gesluit

Written by on July 18, 2020

Barberton en Tonga polisiestasies sal vir die naweek gesluit wees, nadat polisielede daar positief vir die nuwe koronavirus getoets het.
Volgens Mpumalanga se polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, sal beide Maandag weer vir die publiek heropen.
Dienste sal intussen gelewer word vanuit Barberton Park Homes langs die Barberton-stasie, asook die Tonga polisie personeelkwartiere.
Ander stasies wat weens die virus in die Hoëveld tydelik gesluit is, is Mhluzi, Balfour, Leslie en Evander. Almal sal na verwagting Maandag heropen na hulle deeglik ontsmet is.
Die polisie gaan verder voort om padblokkades op te stel om te verseker die publiek hou by die inperkingsregulasies.
Dit sluit in die verbod op alkohol en tabak. Alkohol mag in privaat gebruik word, maar glad nie verkoop of vervoer word nie.
Die aandklokreël geld ook daagliks van 21:00 tot 04:00.
Hlathi sê drankverkopers word veral fyn opgehou, sedert alkohol Sondag weer verban is.
Volgens hom maak hulle ook gebruik van misdaadintelligensie en gemeenskappe om inligting in te win oor mense wat nie die regulasies nakom nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het in die week gewaarsku dat mense stop-en-deursoek operasies kan verwag.
Die polisie sal ook hul sigbaarheid vergroot, veral waar mense nie by reëls oor sosiale distansiëring hou nie.
Volgens Cele het polisielede instruksies om mense wat die regulasies verontagsaam, te arresteer. Oortreders kan beboet word, of selfs tronkstraf opgelê word, afhangende van die erns van die oortreding.
Vir noodgevalle, bel Barberton polisie by 082-923-1593 en Tonga by 082-448-9481.

 


×