100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Graskop water loop weer

Written by on July 16, 2020

Die water in Graskop is weer herstel nadat Thaba Chweu-munisipaliteit dit glo eergister afgeskakel het.
Inwoners van Graskop hou al sedert verlede week die munisipale kantore gesluit, in protes teen tariefverhogings wat in Julie ingestel is.
Thaba Chweu-munisipaliteit het aan die begin van die nuwe finansiële jaar, ‘n nuwe vaste heffing op elektrisiteit ingestel. Dit kom neer op ongeveer R185 per maand – voor enige eenhede krag aangekoop is.
Volgens Thaba Chweu is dit om hul Eskom-skuld van R760 miljoen te probeer delg.
Lance Gibson, voorsitter van die Graskop-sakekamer, sê inwoners kan dit bloot nie bekostig nie.
Inwoners van Lydenburg het ook twee weke gelede teen die verhogings geprotesteer. Mense wil onder meer toegelaat word om direk by Eskom elektrisiteit te koop.
In Graskop het protesaksie oor die verhogings verlede week die hele dorp lamgelê toe mense Maandag en Dinsdag strate geblok en bande gebrand het.
‘n Ooreenkoms is bereik, waarvolgens die protesaksies gestaak is, solank die munisipale kantore gesluit word.
Volgens Gibson beplan hulle om dit vol te hou tot hulle bevredigende antwoorde van Thaba Chweu ontvang.

Die burgemeester, Fridah Nkadimeng, se antwoord op hulle memorandum het veel te wense oorgelaat. Slegs inwoners met ‘n 20-ampère meter wat minder as 400 kW per maand gebruik hoef nie die nuwe vaste heffing te betaal nie.
“Dit is baie min mense,” sê Gibson. “‘n Waterverwarmer gebruik soveel. Mense kry swaar. Mense ly honger.”
Verteenwoordigers van Graskop en Sabie sal na verwagting Vrydag ontmoet om te bespreek hoe hulle saam op Thaba Chweu druk kan plaas.
Themba Sibiya, munisipale woordvoerder, het nie op navrae oor inwoners se griewe gereageer nie.

 


×