100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Provinsie sny begroting met meer as R1 miljard

Written by on November 18, 2020

Die provinsiale regering se begroting vir die res van die finansiële jaar is met R1,4 miljard besnoei.
LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Pat Ngomane, het sy aangepaste begroting gister ter tafel gelê.
Daarvolgens het die regering net 39,2% van hul beplande inkomste in die eerste helfte van die jaar gemaak.
“Die provinsiale regering het ‘n afname gesien in die invordering van gelde vir kommersiële en industriële aktiwiteite weens die Covid-19-grendeltydperk.”
Hy voeg by dat daar voorspel word dat die land se ekonomie vanjaar met 8% sal krimp. Sedert inperking sien net die landboubedryf nog sterk daaruit.
Na aanvanklike werksverliese, is daar tussen Julie en September egter 49 000 werksgeleenthede in die provinsie geskep.

Volgens Ngomane is konstruksie, vervaardiging, handel en toerisme die hardste getref deur werksverliese.
Die nuwe geleenthede is in landbou, finansies, gemeenskaps- en maatskaplike dienste asook private huishoudings aangeteken.
Volgens die begroting het die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme R135 miljoen meer ontvang, waarvan R10 miljoen geoormerk is om Mpumalanga se toerisme herstelplan te implementeer.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ‘n addisionele R71 miljoen gekry, waarvan R40 miljoen bedoel is vir kospakkies vir mense wat weens die pandemie swaarkry.
R26,6 miljoen meer is ook aan die departement van kultuur, sport en ontspanning toegeken vir biblioteke, die Kgodwana kulturele nedersetting en die borgskap van TX Galaxy sokkerspan.
In totaal is R695,6 miljoen by die departement van onderwys weggeneem, maar ‘n spesiale allokasie van R490,8 miljoen is bewillig om president Cyril Ramaphosa se werkskepping-inisiatief te implementeer.
R620,7 miljoen is van gesondheid besnoei.
Samewerkende regering se begroting is verminder, maar die departement kry spesiale befondsing om in Bosbokrand, Nkomazi en eMalahleni plaaslike munisipaliteite in te gryp en om moontlike rampe te bestuur tydens die komende reënseisoen.
“Ek doen weereens ‘n beroep op alle departemente en entiteite om al hul Rande te rek en maksimum voordeel te trek uit goedere en dienste wat aangekoop word,” het Ngomane afgesluit.


×