100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pres. Ramaphosa kondig landswye toetsing vir die koronavirus aan

Written by on March 31, 2020

Pres. Cyril Ramaphosa het op Maandagaand 30 Maart in ʼn televisieboodskap aangekondig dat daar in die volgende paar dae met ʼn uitgebreide veldtog begin word om mense landwyd vir die koronavirus te toets. Hy het gesê dat 10 000 mediese werkers ontplooi sal word om landwyd en op groot skaal na woonplekke te gaan om mense vir die koronavirus te toets.

Vroeër die dag het die nasionale bevelsraad, wat bestaan uit lede van die kabinet, wetenskaplikes en mediese deskundiges vergader. Pres. Ramaphosa se televisieboodskap het op hierdie vergadering gevolg. Hy het ook aangekondig dat daar op Sondag nog ʼn Suid-Afrikaanse burger aan die koronavirus gesterf het wat die aantal sterftes op drie te staan bring. Die getal mense wat positief vir COVID-19 getoets het, het op Maandagaand op 1326 gestaan.

Pres. Ramaphosa het ook gesê dat enigeen wat simptome van die virus toon, gestuur sal word om by klinieke of mobiele klinieke getoets te word. Diegene wat wel positief vir die virus toets, maar sonder enige simptome is of slegs geringe simptome toon, sal opdrag gegee word om by die huis of in ʼn regeringsfasiliteit te self-isoleer. Diegene wat erge simptome van die virus toon, sal na ʼn hospitaal verwys word. “Hierdie nuwe fase om die koronavirus te beveg gaan verreikend wees. Dit is intensief en nog nooit voorheen was daar iets soortgelyks op hierdie skaal gedoen nie,” het hy bygevoeg.

Pres. Ramaphosa het ook genoem dat daar binnekort ʼn mobiele tegnologiese stelsel in werking gestel sal word om mense wat kontak gehad het met enigeen wat positief getoets het, vinniger op te spoor.

Hy het sy dank uitgespreek vir die wyse waarop mense gehoor gegee het aan sy beroep dat almal tuis moet bly. By hom is daar egter ook kommer oor sekere mense wat dit nie in ʼn ernstige lig beskou nie.“Ons moenie die fout maak om te dink dit is iemand anders se probleem nie. Elke keer as jy die regulasies wat die regering daar gestel het minag, of die reëls probeer buig, stel jy jouself en andere in gevaar en op daardie wyse help jy ook om die virus te versprei,” het hy gesê.


×