100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pres. Cyril Ramaphosa waarsku dat skelmstreke met kosverspreiding nie geduld sal word nie.

Written by on April 21, 2020

In ʼn brief wat pres. Cyril Ramaphosa aan Suid-Afrikaners geskryf het op Maandag 20 April het hy beloof dat daar ondersoek ingestel sal word na gerugte dat sekere gevoellose individue kospakkies wat geoormerk is vir honger mense, tot hulle eie voordeel misbruik. Sekere mense, en dit sluit regeringsamptenare in, het hierdie kospakkies wat aan die armes en honger mense uitgedeel moes word, bymekaar gemaak om te verkoop, of vir hulleself te hou of vir vriende en familie uit te deel. Hy het gesê dat indien daar enige waarheid in hierdie gerugte steek, sal daar hard opgetree word teen daardie individue.

Ramaphosa het sy brief begin deur te sê hy dat baie lande regoor die wêreld inperkingsmaatreëls ingestel het om die lewens van mense te spaar. Suid-Afrika het dieselfde pad geloop maar ongelukkig is ʼn baie groot foutlyn in die samelewing daardeur geopenbaar. Ernstige armoede, ongelykheid, werkloosheid is die dinge wat gemeenskappe uitmekaar skeur. Hy het bygevoeg dat dit besonder moeilik vir enige ouer moet wees om nie vir sy kind, wat van honger huil, kos te kan gee nie. Hy het ook verwys na die onregverdigheid van ʼn samelewing waar sommiges in weelde en oorvloed lewe terwyl ander sukkel om te oorleef met net die nodigste of niks nie.

Dit is sekerlik ʼn erfenis van ongelykheid in die verlede maar hy het toegegee dat dit ook ʼn simptoom is dat dinge in die post-apartheid samelewing nie reg verloop nie. Die nasionale tyd van inperking weens die koronavirus het hierdie onderliggende probleem sterk na vore gebring. Pres. Ramaphosa het gesê die beeldmateriaal van desperate mense wat veg om ʼn kospakkie te kry by sekere verspreidingspunte en ook gemeenskappe wat betoog teen ʼn gebrek aan kos is hartverskeurend.

Pres. Ramaphosa het gesê die inperking was noodsaaklik om lewens te red, maar ongelukkig het die verlening van hulp aan die land se mees weerlose inwoners veel stadiger verloop as wat dit moes, en daar was ook groot misstappe. Tog het die uitbetaling van sosiale toelaes redelik glad verloop en die verspreiding van kos word ook nou beter hanteer. Hy het beloof dat die kabinet ʼn stel maatreëls sal finaliseer om te kyk na die impak van die inperkingstyd op die lewensbestaan van Suid-Afrika se mense. In hierdie verband is daar oorleg gepleeg met verskillende rolspelers uit die sakewêreld, die arbeidsektor, kerk- en religieusegroepe, die burgerlike samelewing en die Presidensiële Ekonomiese Advieskomitee.

Van hierdie groepe het ʼn aantal voorstelle op die tafel geplaas met maniere hoe om hulp te verleen aan die armstes van die armes en mense wie se lewensbestaan van die gemeenskap afhanklik is. Die hulp aan huishoudings wat onder die broodlyn lewe sal verbeter word, het hy beloof. Pres. Ramaphosa het ook gesê dat voedselhulp bloot net ʼn korttermyn noodmaatreël is maar daar moet gewerk word aan ʼn volhoubare oplossing om die weerloses in die samelewing te help in die moeilike tye wat voorlê. Hy het ook al die nie-winsgewende organisasies bedank asook almal wat hulp verleen deur kos en geld te skenk, of vrywillige werk te doen om mense in nood van kos te voorsien. “Om mense se honger te verlig is nie liefdadigheid nie.

Dit is noodsaaklik vir enige gemeenskap wat menseregte wil beskerm,” het hy hieroor gesê. Hy het ook genoem dat die regering in hierdie week verdere inligting sal verskaf van planne om die mees weerlose landsburgers te red van hongersnood. In ʼn tyd waar daar soveel kommer is, moet iemand nie nog bekommer oor waar sy volgende bord kos vandaan gaan kom nie. “Ons is nou op ʼn punt in hierdie stryd teen die pandemie waar ʼn gevoel van selftevredenheid fataal kan wees. Ek doen ʼn beroep op elkeen om waaksaam te bly en by die reëls te hou sodat elkeen veilig kan wees, en almal om hulle veilig kan hou,” het hy sy brief afgesluit.
Lees die volledige brief op https://sacoronavirus.co.za/2020/04/20/from-the-desk-of-the-president-20th-april-2020/


×