100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Die oudbankrower, Allan Heyl sterf

Written by on April 21, 2020

Die enigste oorlewende lid van die Stander-bende, Allan Heyl, is Vrydag op die ouderdom van 68 jaar in die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg dood. In die tagtigerjare het André Stander en sy bende die hele land in beroering gehad met hulle waaghalsige rooftogte op banke. Die bende het bestaan uit André Stander, Allan Heyl en Patrick Lee McCall. Dit was veral André Stander wat uiteindelik ʼn kultusfiguur in Suid-Afrika geword het. McCall is in Januarie 1984 doodgeskiet in die bende se skuilplek in Houghton, Johannesburg. André Stander het met ʼn seiljag na Amerika gevlug en is in Fort Lauderdale deur ʼn polisieman doodgeskiet. Heel ironies.

Die enigste oorlewende lid van die bende, Allan Heyl, het na Brittanje gevlug maar het daar ook weer geld gesteel, die skamele bedrag van R4000. Nadat iemand hom verklap het, het Scotland Yard hom in hegtenis geneem en hy is in Mei 1985 vir nege jaar tronk toe gestuur. In 1990 is hy uitgelewer aan Suid-Afrika en hier moes hy sy vonnis uitdien vir die oortredings as deel van die Stander-bende. Hy is in 2005 op parool vrygelaat en het sy lewe handomkeer verander. Hy het begin om oral in die land motiveringspraatjies te hou in ʼn poging om die geweld in die land stop te sit en om mense aan te moedig om nie in dieselfde slaggat as hy te trap nie.

Heyl het ook die boek, Bank Robber: My time with André Stander geskryf. Op Donderdagaand 8 November 2018 het hy hierdie boek by A Bica Café in Nelspruit bekendgestel. Hy was in gesprek met die joernalis De Wet Potgieter wat ook ʼn hoofstuk oor die Stander-bende in sy nie-fiksie boek, Grusaam geskryf het. In die gesprek met Potgieter het Heyl klem gelê op die feit dat niemand ooit in een van hulle rooftogte beseer is nie. Die belangrikste boodskap wat hy daardie aand uitgedra het, is: “Daar is nie ʼn maklike pad nie. ʼn Mens moet hard werk om iewers te kom.”


×