100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Polisie maan teen verspreiding van fopnuus

Written by on September 21, 2020

Die polisie in Mbombela het inwoners aangeraai om nie goedmoeds moontlike fopnuus te versprei nie, omdat dit onnodige paniek in gemeenskappe saai.
Mense moet ook enige misdadige voorvalle by die polisie rapporteer, sodat hulle dit kan ondersoek.
Dit is na aanleiding van ‘n WhatsApp-boodskap wat waarsku dat ‘n vrou vanoggend amper in Mbombela gekaap is, wat soos ‘n veldbrand deur die dorp versprei het.
Dit voer aan dat die skrywer se vriendin in haar kar gery het toe ‘n swart Corolla glo doodgestop het reg voor haar.
Drie mans het uitgespring en aan haar deure geruk en op haar geskree.
‘n Ander man wat verby gekom het, het glo uit sy voertuig gespring om haar te help, en die drie vermeende aanvallers het op die vlug geslaan.
Nelspruit se polisiewoordvoerder, kaptein Zandile Gqawa, sê egter geen saak is by hulle aangemeld nie en hulle vermoed daarom dat die boodskap fopnuus is.

WhatsApp bied self die volgende raad om te bepaal of ‘n boodskap moontlik vals kan wees.
Wanneer ‘n boodskap as “Forwarded” aangedui word, weet jy die stuurder daarvan het dit nie self geskryf nie. ‘n Dubbel-pyltjie ikoon dui aan dat dit meer was vyf keer van ‘n stuurder aangestuur is.
Foto’s en opnames kan maklik geredigeer word om misleidend te wees. Kyk na betroubare nuusbronne om te sien of hulle dit as feite rapporteer.
Baie boodskappe of skakels wat fopnuus bevat het spelfoute in.
Pasop vir inligting wat dalk net jou eie vrese en opvattings bevestig. Stories wat moeilik is om te glo is dikwels nie waar nie.
Fopnuus gaan ook dikwels viral. Dit maak dit nie waar nie.
Probeer die feite bevestig voor jy iets aanstuur.

*Dit gons die laaste ruk opnuut op sosiale media en in die nuus oor vroue en veral kinders wat landwyd ontvoer word of van pogings om hulle te ontvoer.
Dit gebeur wel. Luister die ontbytspan se onderhoud met Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice oor hierdie kwessie op ons Facebook-blad.


×