100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mienke Mulder volgende week ter ruste gelê

Written by on September 21, 2020

Die driejarige Mienke Mulder se begrafnis sal volgende Dinsdag, 29 September, in Benoni plaasvind.
Sy is Woensdagoggend deur haar pa in haar bed dood aangetref.
Die gesin het in 2017 in Mbombela gewoon toe Mienke ernstige breinskade opgedoen het, nadat sy aan ‘n bottel verstik het.
Sy het sedertien die land aangegryp met haar veggees.
Haar pa, Ryno Mulder, sê haar dood was ‘n groot skok vir hom en sy vrou, Verna.
“Sy was baie gesond die laaste ruk. So twee weke gelede het ons ‘n bietjie gesukkel met die melk, maar sy het vinnig herstel. Dit was niks ernstig nie.
“Sy was bitter baie gesond, sy was gelukkig. Die dag voor haar dood was sy baie gelukkig.
“Ek en Verna verstaan nie hoe sy die een dag so gelukkig kon wees, en die volgende dag tref dít ons nie.”

“Baie mense sê ‘lockdown’ was sleg. Ek sien dit heeltemal anders. Die hele tyd kon ek tyd met my gesin spandeer en daardie tyd kan geen geld in die wêreld koop nie. In daai aspek is ons dankbaar vir die ‘lockdown’.
“Waar inperking nou nie vir ons lekker is nie, is dat verskriklik baie mense baie graag haar begrafnis wil bywoon. So ek en Verna het nou hierdie reusetaak om te besluit watter 100 mense nooi jy. Dis ‘n verskriklik moeilike ding.”
Die Mulders het kort na Mienke se ongeluk ‘n blad op Facebook gestig, Please pray for Mienke. Dit het tans amper 60 000 ondersteuners, waar mense boodskappies kan laat. Dit help die gesin baie.

“Soms wil ons maar net nie praat nie. As jou hart op sy laagste plek is en jou gemoed op sy laagste plek is, dan lees ‘n mens iets daar wat jou net weer bemoedig, net weer krag gee om aan te gaan. Dit help verskriklik baie.”
Op dieselfde blad is fondsinsamelings al van stapel gestuur. Mense het ook vir lank elke Woensdag pienk gedra vir Mienke.
Almal is genooi om eerskomende Woensdag weer so te maak.


Die gesin het elke mens vir hul ondersteuning bedank, in besonder die Mbombela-gemeenskap.
“Net na haar ongeluk was ons in Johannesburg en die eerste keer wat ek teruggekom het Nelspruit toe, het iemand daardie groot boom by Crossing-sentrum vreeslik mooi pienk versier.
“Dit was vir my so mooi om te sien hoe almal net omgee vir ons en ons bystaan.”


×