100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mbombela-pastoor herstel goed na fratsongeluk

Written by on September 22, 2020

Past. Cyzelle Fincham van die Grace Family Fellowship in Mbombela sterk goed aan in die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria.
Sy is verlede Vrydag ernstig beseer in ‘n fratsongeluk toe ‘n jagvoertuig waarin sy ‘n passasier was, by Vygeboom-dam omgeslaan en op haar te lande gekom het.
Sy het twee operasies aan haar gesig ondergaan in Mediclinic Nelspruit voordat sy verlede Maandag per helikopter na die Eugene Marais-hospitaal oorgeplaas is. Daar is haar bekkenbeen deur ‘n spesialis herstel.
Cyzelle se man Kelvin, wat ook ‘n pastoor by die Grace Family Fellowship is, sê dit gaan al baie beter met haar.
“Sy is van die ventilator af en haal self asem. Die dokters is baie tevrede. Haar suurstofvlakke is mooi. Haar operasies was suksesvol. Alles wat gebreek het, is weer in plek en vasgeboor en -gebout,” sê hy.
Sy het twee van haar nekwerwels gekraak en ses ribbes, haar wangbene en bekkenbeen gebreek.
Sy sal na verwagting vandag van intensiewesorg na die hoësorgeenheid verplaas word.

“Nou is dit maar net ‘n hersteltydperk wat voorlê,” sê hy.
Sy sal na verwagting rehabilitasie benodig om weer te kan loop.
“Die dokter wil haar so gou moontlik terug kry in Nelspruit sodat sy naby haar familie kan wees, maar sy moet eers stabiel genoeg wees.”
Die egpaar het drie kinders, van onderskeidelik 13, 12 en nege jaar oud.
Weens inperkingregulasies kon hulle haar aanvanklik nie besoek nie. Kelvin mag haar darem nou al elke tweede dag vir 30 minute besoek.
Hy het die gemeente en breër gemeenskap vir hul ondersteuning en gebede bedank.


×