100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Thaba Chweu-inwoners verwerp tariefverhogings

Written by on September 22, 2020

Inwoners van Thaba Chweu het hard en duidelik “nee” gesê vir die munisipaliteit se nuwe elektrisiteitstariewe tydens die openbare deelnameproses daaroor.
‘n Omstrede elektrisiteitsfooi van R184.23 en tariefverhogings van sowat 10% is skielik aan die begin van Julie ingestel.
Na burgerlike aksies deur inwoners van Mashishing (Lydenburg), Sabie en Graskop is dit tydelik opgehef tot die openbare deelnameproses kon plaasvind. Dit is nou afgehandel.
Die gemeenskap se terugvoer moet nou by die volgende raadsvergadering voorgelê word sodat die raad ‘n besluit kan neem.
Comfort Sibiya, die DA se voorsitter in Thaba Chweu, sê hy glo inwoners sal seëvier.

Die sowat maand lange proses het egter glo nie seepglad verloop nie. “Daar was baie klagtes van die gemeenskap oor administrateurs of die relevante persone van die munisipaliteit wat nie by die vergaderings teenwoordig was nie,” sê Sibiya.
“Ons weet daar was baie petisies tydens die proses en mense het duidelik gesê hulle is teen die elektrisiteitsfooi gekant omdat hulle dit nie kan bekostig nie.
“Ons het die volste vertroue dat ons nie sal terugkeer daarna nie, en dat tariewe met slegs die 6,4% verhoog sal word wat deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is.”
Inwoners voer aan dat daar nie met hulle gekonsulteer is voor die nuwe tariewe in Julie ingestel is nie, en het daarteen betoog.
Volgens Thaba Chweu is dit ingestel het om hul Eskom-skuld, wat teen Julie op R760 miljoen gestaan het, te vereffen.
Lance Gibson van Graskop se belastingbetalersvereniging sê hulle het besluit om die proses te begin om ‘n dispuut te verklaar teen munisipale belasting en tariewe en dit te weerhou.
Hulle wil ook steeds hê dat die provinsiale regering Thaba Chweu-munisipaliteit onder administrasie plaas.
“Ons wil die onverkose administrateurs uit hul poste lig en die amptenare uitstem,” sê hy.


×