100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Phakisa Pumas slaggereed vir Curriebeker-reeks

Written by on September 1, 2020

Die spanne wat aan vanjaar se Curriebeker-reeks deelneem, mag hierdie week vir die eerste keer met kontakoefeninge begin.
Sedert Augustus mag spelers slegs in die gimnasium en in groepe geoefen het.
Die minister van sport het egter nou die groenlig gegee dat hulle met kontakoefening vir die Curriebeker-reeks kan begin voorberei.
Die verkorte reeks skop volgens beplanning aan die begin van Oktober af. Geen toeskouers sal in stadions toegelaat word nie, om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.
Die plaaslike Phakisa Pumas is opgewonde oor die vooruitsig om te speel.
Spelers moet elke sewe dae vir die nuwe koronavirus getoets word.
Elke Puma is Maandag getoets. Hul uitslae word Woensdag verwag.
Afrigter Jimmy Stonehouse sê hulle sal dan Donderdag met kontakoefening begin.
“Daar is sommer ‘n oplewing onder die spelers,” sê hy.
Die Pumas het in September verlede jaar laas rugby gespeel.
Volgens Stonehouse is hulle slaggereed vir wat voorlê.

Om beserings te verhoed, beplan hulle om af te skop met skouerkontak. Hulle sal vanaf volgende week met liggaamsbeskerming harder kontak begin maak en die week daarna begin met man-op-man kontak tydens oefeninge.
“Die spelers is baie fiks. Ek dink ons beserings is uitgesorteer,” sê hy.
“Ons sien baie uit na die reeks, veral omdat soveel Springbokke daaraan gaan deelneem. Dit verander die speelveld en maak ons nog meer opgewonde.”
Hy voeg by dat die unie se grootste probleem is, dat hulle nie tans blootstelling aan hul borge kan gee nie. Die uitsaai van die Curriebeker-reeks sal egter die probleem oplos.


×