100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Gees van Ubuntu seëvier in die wildtuin

Written by on September 1, 2020

Ubuntu het hom die afgelope week in die Krugerwildtuin afgespeel.

Muhammed Vawda vertel dat sy pa (72) en ma (65) in ‘n motorongeluk was.

Hulle was verlede Maandag van Tamboti-kamp na Satara onderweg.
Sowat vyf kilometer voor Satara het die kar meganiese probleme ondervind. Hulle het beheer daaroor verloor en is ‘n ent van die pad af, die bosse in.

Volgens Vawda het hulle gelukkig slegs sowat 40km/h gery. Die kar is skoon oor ‘n boom, voor hulle in ruigtes tot stilstand gekom het. Hulle was erg verdwaas.

Amper onmiddelik het twee paartjies wat saam in ‘n kampwa gereis het, stilgehou en aangebied om hulle Satara toe te neem.

Volgens hul seun was dit tekenend van die ware gees van Ubuntu, dat daar binne minute sowat 40 ander mense gestop het – van alle ouderdomme en rasgroepe en in allerlei voertuie – om hulp aan te bied.

SANParke se woordvoerder, Rey Thakuli, sê hulle is baie trots op dié reaksie.

Intussen het hul seun Satara-kamp gekontak en hulle het ‘n veldwagter uitgestuur. Hy het hulle weer laat weet dat hulle hulp ontvang het.

Met sy ouers se aankoms by die kamp het ‘n veldwagter, slegs bekend as Wilson, die hele drie ure by sy getraumatiseerde ma gebly terwyl verblyf in die kamp vir hulle gereël is.

Hy het hulle ook later teruggeneem na die toneel om hul bagasie te gaan haal, dit alles self opgelaai, en dit persoonlik by hul huthuis in die kamp afgelewer.

Die Vawda-gesin het hul innige dank betuig aan almal wat hulle te hulp gesnel het.


×