100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Provinsiale ondersoek na Covid-19-verskaffers volgende week verwag

Written by on September 2, 2020

Mpumalanga se ondersoek na Covid-19 verskaffers behoort teen volgende week afgehandel wees.

Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane het twee weke terug aangekondig dat onreëlmatighede geïdentifiseer is in vyf entiteite se keuse van verskaffers vir Covid-19.

Dit is die departement van sport, departement van samewerkende regering, die provinsiale tesourie, Mpumalanga-parkeraad en die Mpumalanga Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap (Mega).

Volgens die premier se woordvoerder, Sibongile Mkani-Mpolweni, is ‘n onafhanklike span ondersoekers verlede week eers aangestel omdat die korrekte verkrygingsproses gevolg moes word.

Dit sal na verwagting teen volgende Woensdag afgehandel wees.

Mtshweni-Tsipane het ten tyde van die aankondiging verduidelik dat hulle die spesiale ondersoekeenheid (SOE) nie wou betrek nie omdat hulle so besig is met ander dergelike ondersoeke.

Sy het haar onderneming gegee dat, sou hul ondersoek enige bewyse oplewer, dit na die SOE verwys sal word.

Die DA het intussen aangekondig dat die ouditeur-generaal (OG) ingestem het om Mega ook te ondersoek.

Volgens Bosman Grobler MPL, die party se woordvoerder van finansies en ekonomiese ontwikkeling in die provinsie, het hulle die OG aan die begin van Augustus genader om ‘n diskresionêre oudit te doen.

Mega het glo ‘n verslag aan die portefeuljekomitee vir finansies voorgelê waarin hul finansiële agteruitgang blootgelê word.

Grobler verduidelik in ‘n verklaring dat die helfte van die lenings wat Mega in die 2019/20 finansiële jaar toegeken het, teen 1 Januarie agterstallig was. In die eerste nege maande van die jaar kon hulle ook slegs 10% van gelde aan hulle verskulding, insamel.

“Ons is bekommerd dat Mega nie finansieël volhoubaar is om sy mandaat uit te voer nie,” sê hy. “Ons beroep dat die entiteit ontbind word, word voortdurend deur statistieke ondersteun.”


×