100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Restaurantvereniging waarsku regulasies kan weer verskerp

Written by on August 31, 2020

Op die vooraand van Toerismemaand, hou besoekers aan restaurante en kroeë glo nie genoegsaam by inperkingsregulasies nie.
Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het Maandag gewaarsku dat plasings op sosiale media van mense wat die reëls verbreek, onder die minister van toerisme se aandag gekom het.
Volgens Rasa se voorsitter, Wendy Alberts, word dit deur die regering oorweeg om strenger maatreëls in te stel, en selfs alkoholverbruik op persele weer te verban.
Alberts het ‘n beroep op mense gedoen om by die reëls te hou.

Volgens Alberts ontvang sy baie klagtes van lede wat sê hulle sukkel om die regulasies op hul klante af te dwing.
Daarvolgens moet hulle teen 22:00 toe wees, mense moet maskers dra en hul temperatuur op ‘n register invul. Mense moet ook fisiese afstand van mekaar hou.
Boonop, voeg Alberts by, basuin onverantwoordelike plasings op sosiale media ook uit dat hierdie inperkingsregulasies nie onder vlak 2 geld nie.
Dit is onwaar en die hele bedryf sal weereens skade ly as strenger maatreëls heringestel word.
Die hoër vlakke van inperking het reeds massiewe skade aangerig.
Verskeie restaurante, kroeë en selfs hotelle in die Laeveld sal nie weer heropen nie. Ander werk hard om hul deure oop te hou, met minder werknemers en verkorte ure.
Intussen het die minister van toerisme, Maandag Toerismemaand afgeskop.
Mmamoloko Kubayi-Ngubane het Suid-Afrikaners aangemoedig om in September plaaslik te reis as deel van die regering se plan om die bedryf terug op sy voete te kry.
“Ons het diverse toerisme aanloklikhede wat sonder twyfel die uiteenlopende behoeftes van reisigers vervul,” het sy gesê.
Sy voeg by dat Suid-Afrikaners veral uit wil kom na inperking en daarna uitsien om nuwe dinge te ervaar.


×