100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pa en seun gevonnis oor renosterhorings, haaivin

Written by on November 22, 2021

‘n Pa en seun is Donderdag in die Middelburg-hof gevonnis vir, onder meer, die besit van renosterhorings en ‘n haaivin.
Die 48-jarige pa en 27-jarige seun se name is albei Alberto Ernesto Nharreluga en beide is van Mosambiek afkomstig.
Hulle is op 20 April 2019 op die N4 naby Nelspruit deur die Middelburg-blitspatrollie afgetrek.
Die renosterhorings en ‘n haaivin is in die voertuig gevind. Hulle het polisielede R20 000 aangebied om hulle te laat gaan.
Volgens die Valke se kapt. Dineo Sekgotodi is elkeen gevonnis tot ses jaar vir die besit van die horings, vyf jaar vir korrupsie en drie jaar vir die besit van die haaivin.
‘n Man is Donderdag in Barberton 20 jaar gevangenis-straf opgelê vir die moord van ‘n ander man meer as twee jaar gelede.
Die 39-jarige Nyiko Wiseman Sithole het op 2 Maart 2019 die 35-jarige Xhotana Ayabulela tydens ‘n argument in Barberton doodgesteek.
Sithole het gevlug, maar is op 22 Januarie vanjaar in Barberton aangekeer.
‘n 31-jarige man van Zimbabwe het ook in die Komatipoort-hof verskyn op ‘n klag van bedrog.
Volgens Sekgotodi het hy ‘n verkeersbeampte R10 000 aangebied om die dossier vir poging tot moord teen sy vriend te laat verdwyn.
Die betrokke vriend het na bewering ‘n verkeersbeampte probeer omry op die N4 naby die Lebombo-grenspos.
En drie vermeende geldskieters sal weer op 14 Desember in die hof verskyn, omdat hulle na bewering onwettig geld uitgeleen het.
Zelda Kandabile (33), Sibusiso Nyundu (36) en Baby Miko (41) is Woensdag by die twee persele in Salubinza Trust en Mahushu aangekeer vir oortreding van die kredietwet.
‘n Totaal van 18 SASSA-kaarte en 19 verskillende bankkaarte met PIN’s is gevind.
Hulle het reeds Donderdag in die Kabokweni-landdroshof verskyn. Elk is borg van R1 500 toegestaan.
Die saak is oorgedra na die Masoyi-landdroshof.


×