100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Belowende jong tennisspeler behaal sukses in Europa

Written by on November 22, 2021

Laerskool Nelspruit se JP Snyman (12) is pas terug van sy tennistoer in Europa.
Hy het op die Paris West Tennis Academy se kleibane geoefen. Hy het ook aan sy eerste toernooi op dié oppervlakte deelgeneem by die Ten-Pro Global Junior Tour tennistoernooi by die Kim Clijsters Tennis Academy in België waar hy sewe van sy nege wedstryde gewen het en tweede in die o/12-kategorie geëindig het.
Hy en pa, Tiaan, het met Gerhardt gesels.
JP het op vyf begin tennis speel “vir die lekkerte”, maar op 10 ernstiger daaroor geraak en harder begin oefen.
Hy het op ‘n stadium selfs tuisskool geloop om harder te kon oefen.
Sy pa sê hy het hom aan tennis voorgestel omdat dit in klein kinders vaardighede ontwikkel wat jy nie in baie ander sportsoorte kry nie. Dit is ook voordelig vir ander balsporte.

“Dit gaan nie daaroor of hulle goed of sleg speel nie,” sê hy. Al vier hul kinders speel tennis, tot JP se jongste sussie, die vyfjarige Kara.
JP wil definitief eendag professioneel speel. Sy held is Rafael Nadal.
“Dit is ‘n baie kompeterende sport dit is hoekom dit vir my lekker is, ek hou nie van verloor nie,” lag hy. “Dit maak jou ook baie sterk: in jou onderlyf en in die algemeen, jou skouers ook. Dit is ook baie goed vir jou mentaliteit. Jy leer geduld en dissipline soos jy aangaan.”
Vir die gesin was die oorsese ervaring belangrik as ‘n boublokkie om JP die ervaring te gee van weg speel van die huis af, uit tasse te leef en baie ongewone ervarings te beleef in terme van plekke en kos en tale.
Luister weer hier na die gesprek oor dié besonderse ervaring:


×