100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ondersteuners sê hulle gaan in vrede Senekal toe

Written by on October 15, 2020

Die regering het aangedui dat wetstoepassers môre in “volle mag” in Senekal ontplooi sal word.
Die vermeende moordenaars van die voorman Brendin Horner (21), Sekwetje Isaiah Mahlamba (32) en Sekola Piet Matlaletsa (43), verskyn dan vir ‘n tweede keer in die hof.
Geweld het tydens hul eerste verskyning verlede week Dinsdag uitgebreek.
‘n Polisievoertuig is aan die brand gesteek en ‘n groep mense het die hofgebou bestorm.
André Pienaar is in hegtenis geneem weens die voorval. Hy is borgtog geweier. Sy regspan sal vandag ‘n appèlaansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein bring.
Boere en ondersteuners van regoor Suid-Afrika is reeds op pad na die dorp.
‘n Massarit van motorfietsryers en voertuie begin Vrydag douvoordag vanaf Midrand.
Maar, sê Mbombela se past. TJ Maré van die 911Riders, dit gaan vir hulle bloot daaroor om ondersteuning te wys aan die boere, en om weer vir die land te bid.

“Ons ry Senekal toe, nie om die hofsaak by te woon, of om op mense te skree, of om op geskree te word nie. Ons gaan in die naam van die Here,” sê hy.
“Dit gaan daaroor om ondersteuning te wys.”
Die 911Riders ry motorfiets met ‘n doel om bewusmaking te kweek van kwessies. Hulle het die afgelope Saterdag ook by die Uniegebou gebid.
Hulle beplan om in Senekal in die dorp saam te trek. Hulle sal ‘n kollektiewe gebed doen, en dan spesifiek vir die boere van Suid-Afrika bid.
“Dit is nie net boere van daardie area wat daar gaan wees nie. Dit is boere van regoor die land,” voeg Maré by.
Hulle sal daarna vertrek na die plaas waar Horner vermoor is en vir die mense op die plaas bid.
‘n Vreedsame protesaksie word ook deur AfriForum gereël.
Die burgerregteorganisasie se aksie teen plaasmoorde en geweld begin Vrydag om 10:00.
“AfriForum het hierdie besluit geneem om te verseker dat die vreedsame meerderheid, wat op ’n geordende wyse hulle woede en misnoeë oor die terreur op plase wil toon, se stem nie stilgemaak word deur ’n klein groepie opstokers en die uitlokkende optrede van die EFF nie,” sê hulle in ‘n verklaring.
“AfriForum en geweldgeteisterde gemeenskappe het die volste reg om woedend te wees oor moorde soos dié op die jong Brendin Horner, maar AfriForum glo dit is belangrik dat die billike saak om optrede teen plaasmoorde te eis, nie besoedel moet word deur diegene wat die stryd teen plaasmoorde in onguns wil bring nie.”
Maré het weer gevra dat almal wat die saam kan ry nie, saam met hulle bid, waar hulle ookal is.


×