100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

ʼn Nuwe liedjie uit die pen van Henry-John Williams

Written by on April 30, 2020

Geen staat van inperking kan ʼn ware kreatiewe siel keer om skeppend te wees nie. So het die Laeveldse musikant en binnenshuise ontwerper, Henry-John Williams, so pas weer bewys. Radio Laeveld-luisteraars ken vir Henry-John goed vir sy program wat hy op ʼn Woensdagoggend aanbied, Dekor 101. In hierdie program deel hy wonderlike wenke met luisteraars oor allerlei kreatiewe idees vir jou huis.

Vir die duur van die inperking is Henry-John saam met sy sussie Anastia Klingenberg op haar skoonfamilie se erfplaas naby Paulpietersburg. Die ou plaashuis met sy houtvloere en ruim vertrekke is al 101 jaar in hierdie familie se besit. Gedurende die grendeltyd het Henry-John ʼn liedjie, “21-dae” geskryf wat oor hierdie vreemde tydperk in ons lewens handel. Hy het ʼn paar dae gelede sy nuutste skepping op sy YouTube-kanaal gelaai. Hierdie liedjie, “1000 foto’s” is ʼn pragtige liefdesliedjie oor ʼn verlore liefde. Hy vertel dat hy eintlik al aan die einde van 2018 hierdie liedjie begin skryf het. Hy het eendag by sy vleuelklavier in sy woonstel gesit, en afgekyk in die gang. Henry-John is ʼn groot kunsversamelaar en tussen al die skilderye in die gang, hang daar ook foto’s en skielik het die woorde: “ʼn Duisend foto’s van ons in die gang…” by hom opgedaag.

Die liedjie gaan oor ʼn verlore liefde en verlore drome wat in die wind weggewaai word. Vir die tydperk van inperking het hy sy tuisstudio en sy elektroniese klavier saamgeneem plaas toe en in hierdie tyd het hy die liedjie voltooi. “Die groot uitdaging was nou om die video te kon maak met bloot dit wat ek tot my beskikking gehad het op die plaas,” vertel hy. “Ons het alles uit Anastia se kunsateljee gedra en ʼn bed daar ingedra. Ek het foto’s uit tydskrifte gesny en teen die mure geplak. Ons het sommer die kamera op ʼn babastootwaentjie gemonteer om die effek van beweging te gee in die video. My sussie het haar mooi stem ook plek-plek bygevoeg.

Ek dink die boodskap van die liedjie, dat jy vir ʼn tydperk in jou lewe net so stoksielalleen gaan wees, kom sterk in die video deur en ek is so dankbaar dat ek dit uiteindelik die lig kon laat sien,” sê hy. Op sy Facebookblad deel Henry-John ook elke dag foto’s van die pragtige omgewing waarin hy hom tans bevind. Die plaas lê op die grens van Noordoos-Natal en Mpumalanga, aan die Pongola-rivier. In ʼn moeilike tydperk in sy lewe het sy terapeut aan hom die raad gegee om elke dag na die mooi in die lewe te soek. Sedertdien stap hy nie by iets mooi verby sonder om dit af te neem nie.

Die foto’s wat hy so deel saam met ʼn kort beskrywing beteken geweldig baie vir mense in hierdie donker tydperk. Dis wonderlik dat kunstenaars soos Henry-John hulle talente so mildelik uitdeel.


×