100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

So lyk die plan vir die hervatting van skoolonderrig

Written by on April 30, 2020

Die portefeuljekomitee vir basiese onderwys sowel as ʼn verkose komitee oor onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur het op Woensdagoggend 29 April vergader om oor ʼn moontlike plan vorentoe vir skole te gesels. Volgens die plan wat die departement van basiese onderwys aan lede van die parlement voorgelê het, sal onderwysers op Maandag 4 Mei terugkeer na skool. Skole weer vir graad 12 en graad 7-leerders op Woensdag 6 Mei open en graad 11 en graad 6-leerders sal op 20 Mei terugkeer. Skole sal volgens die plan op 3 Junie vir graad 10 en graad 5-leerders open en op 17 Junie vir graad 9 en graad 4-leerders. Graad 9 en graad 3-leerders sal dan op 1 Julie terugkeer terwyl graad 2 en graad 1-leerders op 8 Julie en die graad R-leerders op 15 Julie terugkeer.

Weens die hoeveelheid skooldae wat verlore gegaan het in die tydperk van inperking, sal die wintervakansie met een week verkort word en die Septembervakansie met een dag. Beplande eksamens sal steeds afgelê moet word. Die graad 12-leerders sal oor die volledige leerplan moet eksamens skryf. Die ander grade sal ʼn hersiene kurrikulum volg en daarom oor net 80% van die werk geassesseer word.

Skoliere en leerkragte sal ook verplig word om maskers te dra wanneer hulle terugkeer skool toe. Die maskers moet die hele dag gedra word. Daar sal ook siftingstoetse gedoen word en sal met die graad 7 en graad 12-leerders begin word. Indien daar enigeen met ʼn verhoogde temperatuur is, sal so ʼn leerder of onderwyser gevra word om in isolasie te bly vir die nodige tydperk. Alle klaskamers moet voor die begin van elke skooldag ontsmet word. Voordat leerders in die klaskamer inbeweeg, moet hulle hande gesaniteer word. Groepwerk sal nie meer plaasvind nie sodat die nodige sosiale distansiëring gehandhaaf kan word. Skoolbusse sal ook ontsmet word deur die departement van vervoer.


×