100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

MTPA-staking in sy sewende dag

Written by on April 12, 2021

Die staking deur werknemers van die agentskap vir toerisme en parke in Mpumalanga (MTPA), duur nou al sewe dae.
Hul kantore en die reservate wat deur die MTPA bestuur word, is sedert Dinsdag gesluit. Watervalle wat deur Safcol bestuur word, is wel oop.
Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, het Vrydag met MTPA-bestuur en die provinsiale leiers van Nehawu vergader.
“Daar is ooreengekom om dringend ‘n taakspan saam te stel om onmiddelik die kwessies aan te spreek en ‘n oplossing te vind sodat die agentskap hul bedrywighede kan hervat,” sê die agentskap is ‘n verklaring.
Die MTPA se woordvoerder, Kholofelo Nkambule, sê die vakbond sou vandag die voorgestelde oplossings aan hul lede voorhou. Intussen bly die reservate gesluit.

Die stakende werknemers eis onder meer dat werknemers in waarnemende bestuursposte permanent aangestel word. Hulle wil ook hê dat die senior bestuursposte wat onlangs geadverteer is, nie gevul word nie tot die waarnemende mense geplaas is nie.
Johannes Nobunga, uitvoerende hoof van die MTPA, sê hulle werk onverpoosd om die kwessies so spoedig moontlik op te los.
“Ons is daarvan bewus dat dit ‘n negatiewe uitwerking op die toerismesektor het en besoekers aan ons aantreklikhede verontrief. Ons nooi besoekers aan Mpumalanga om ander aantreklikhede te besoek,” sê hy.
Die private sektor het ‘n beroep gedoen op die provinsiale regering om in te gryp en die staking tot ‘n einde te bring.
“Dit is ekonomiese sabotasie,” sê die Kruger-Laeveld-sakekamer.


×